Ons Afrikaners is darem oral versprei deesdae. Dubai, Kanada, Nieu-Seeland, die Verenigde Konigkryk. Hulle sê in Londen kan jy nie iemand opstraat in Afrikaans slegsê nie, want iemand anders sal verstaan.
Nou die dag sien ek daar speel ʼn Labuschagne toetskrieket vir Australië. En ʼn bielie van ʼn flank Hanco Germishuys speel rugby vir die VSA! USA as jy nie weet van wie ek praat nie. Daar waar oom Donald die septer swaai.
En soos ek navorsing gedoen het kom ek agter hierdie ouens is nie soos CJ Stander van Ierland en Neil Wagner van Nieu-Seeland wat na ʼn ander land verhuis het met die oog om vir sy aangenome land se nasionale span te speel nie. Nee! Hulle en hul familie het geimmigreer soos duisende ander (Nie net Afrikaners nie).
En die kans is goed dat hulle gaan wortelskiet in hul nuwe tuistes. Hul nageslag gaan assimileer met hul nuwe landgenote. Hulle gaan hul Afrikaner identiteit stadig maar seker verloor.
(Ek wil niemand anders met hierdie post beledig nie.)
Hulle gaan nie die Huisgenoot lees en die nuutste sokkie liedjie ken nie. Hulle gaan nie aan die ATKV behoort nie of aan n Afrikaanse kerk behoort nie.
Hulle gaan weet een van hul voorsate was van SA, maar hulle gaan nie noodwendig veel daarin belang stel nie. En as hulle meer oor hul familie se lewe in SA wil weet gaan hulle by een woord uitkom.
Apartheid
En vir hulle wil ek net sê! Ons is baie meer as die booswigte van Apartheid. Ons Afrikaners het ook ons spoor op die wêreld gelaat. Het jy geweet:
- Die dorp Chivu in Zimbabwe was deur Boere gestig. Sy naam was eers Enkeldoorn, maar is na Zimbabwe se onafhanklikheid verander.
- Ons het in albei Wêreldoorloë baklei. Die kommandant van die Geallieerde Magte het self gesê, “Give me two divisions of those marvelous fighting Boers and I will remove Germany from the face of the earth.” Hy was duidelik beȈndruk met ons veg vernuf. By elke Veldslag waarby ons betrokke was sal jy grafte met ons mense in kry.
- Bothashof (deesdae Eagles Vale) was ʼn Afrikaanse Skool in Zimbabwe. Tot vandag toe is die skool leuse Diens.
- Die Dorsland Trekkers was ʼn klomp Boere wat wou wegkom van Britse bevind en het sedert 1874 deur die Kalahari Woestyn na Angola getrek. Dit was ʼn moeilike reis. Baie mense is dood. Baie het omgedraai. Hulle het meestal in die Humpata Hooglande gaan bly. Baie het na ʼn paar dekades van sukkel bestaan terug gekeer na Suid-Wes of SA. Die laastes van die Boere is in 1975 daar weg toe die Portugese owerhede begin ontrek het aan Angola. Die dorp Humpata het selfs ʼn standbeeld wat in 1958 opgerig is wat die Trekkers gedenk.
- Tydens die Anglo-Boere Oorlog was daar baie oud-Boere krygers in gevangeniskampe in voorheen Britse Kolonies. St Helena, Bermuda, Ceylon (Sri Lanka),Indië. Daar het baie van hulle gesterf en hul grafte is nog daar. Party het self agter gebly na die oorlogomdat hul nie aan Brittanje onderdanig wou wees nie.
- Ons het die Magtige Britse ‘Empire’ keer op keer tydens die Anglo-Boere Oorlog geklop. Was dit nie vir vuilspel deur die Engelse nie het ons gewen.
- Na die Oorlog het Boere-families wat alles verloor het Brits-Oos Afrika (Kenya) toe getrek en die dorp Eldoret gestig. Tot in die 1980s was daar van hul nageslagte wat daar gebly het.
- Party Boere het in die laat 1890, begin 1900s in Ghanzi Botswana gaan stig. Hul nageslag bly vandag nog daar.
- Na die Anglo-Boere Oorlog het Boere-families wat alles verloor het Argentinië toe getrek. Hulle het hulself in die Patogonië streek gaan vestig. Baie het na ʼn dekade of so terug getrek SA toe. Nou 100 jaar later is daar nog van die nageslag wat Afrikaans kan praat. Kyk gerus na die film Boere op die Aardsdrempel.
- Generaal Ben Viljoen , oud-vegter uit die Anglo-Boere Oorlog het ʼn Boere Kolonies in die Nieu-Mexiko Staat probeer stig. Hy was ook ʼn Amerikaanse Burger, het as Konsultaat vir Amerika in Duitsland gedien en het nuwe boerdery sisteme gestig in die Mesilla Vallei, waar hy tot sy dood gebly het.
- Christiaan Barnard, die man wat die eerste hartoorplanting gedoen het was ʼn Afrikaner.
- Namibië (voorheen Duitswes-Afrika) was ʼn Provinsie van SA. Daar is baie Afrikaner invloed.
- Manzini (Bremersdorp) in Swaziland was deur die Boere gebruikas Hoofkwartier in die Anglo-Boere Oorlog. Nhlangano (Goedgegun) was ook ʼn dorp met ʼn Afrikaanse invloed.
- Afrikaans is een van die nuutste amptelike tale op aarde
As jy nog wil weet van jou mense, Google so bietjie. Daar leer jy so baie dinge, jong!
As daar nou een ding is wat ek hier uit kon leer is dat ons na jare in die vreemde soms wel huis toe kom…