Net omdat jy in ʼn rolstoel sit beteken dit nie dat jy nie deur Afrika kan reis nie…
Ek sit hier in my rolstoel en staar voor my uit. Die Drakensberge bekoor my weer vandag.Terwyl my familie gaan stap het, geniet ek die stilte en ʼn koppie koffie.
Die berg blink mooi blou en helder. Nie ʼn wolk in sig. Skielik stop daar ʼn klein rakker by my met sy ma kort op sy hakke.
“Kyk, mamma,” sê hy opgewonde en beduie met sy vuil vingers na my toe, “Shrek!” Sy is gou by en raap hom op. Sonder om my ʼn kans te gee, maak die mamma vinnig ʼn verskoning en stap weg.
Ek weet die kind het niks leliks bedoel nie. Hy het verwys na die prentjie van Shrek op my rugsak- een van my mees kosbare besittings en beste reisgenote.
Saam het ons al baie plekke en kilos op die klok. Ons was al teen Tafelberg op, het al saam gevaar op die MSC Opera en was selfs al land uit.
Hier is ʼn paar voorbeelde.
Vic Valle en Chobe Wildtuin:
Die Vic-Valle word nie verniet Mosi-oa-Tunya, of “Die Rook wat Donder” genoem nie. Tien jaar gelede toe ek daar was, was dinge nogal ‘donderagtig’ hierso. Daar was verkiesingsprobleme, politieke geweld en die Zim Dollar het geen waarde gehad nie.
Ek het sonder probleme Vic Falls toe gevlieg met Brittish Airways. Die personeel aan boord was vriendelik en behulpsaam. Kort na ons geland het, is ek spoedig met my rolstoel herenig en is vinnig deur die doeane en al.
Ons gids het ons met die oord (Zambezi River Lodge) se bussie kom haal en na ons tuiste vir die volgende drie dae geneem.
Die lodge is op die oewer van die Zambezirivier. Die kamers was goed versorg, maar basies en rolstoel toeganklik vir my. Alhoewel die personeel baie hulpvaardig was, was daar nie ’n groot verskeidenheid kossoorte beskikbaar nie, as gevolg van die ekonomiese situasie op die tyd.
Later daardie dag is ons ʼn op ‘Sundowner Cruise’ op die rivier. Die Olifante en die seekoeie het so langs ons geswem. Daar het ek vir die eerste keer Lion Lager geproe.
Vroeg die volgende dag is ons Valle toe.Van ver af kon jy die water hoor ‘donder’ en jy sien die ‘rook’ wat in die lug hang. Die plek het ʼn magiese gevoel.
Die gesig wat jou begroet, is verstommend! Jy sukkel om in te neem wat jy sien. Daar is ʼn voetpaadjie wat jy volg, dan stap jy so al met die Valle langs tot by die bekende treinbrug wat tussen Zimbabwe en Zambie strek.
Wat jy nog in die area kan doen:
- Om op ʼn olifant te gaan ry en hulle te voer, was is ʼn belewenis. Die personeel by Elephant Back was baie behulpsaam.
- Wat is ʼn reis sonder inkopies? Gaan na die Vic Falls mark toe. Daar is baie mooi goed. As jy nie geld wil betaal nie, ruil ʼn kledingstuk.
- Vat ʼn nagrit. Dalk sien jy meer as ons.
- As jy tyd het, glip oor die grens Botswana toe. Spesifiek die Chobe Nasionale Wildtuin. Verkyk jou aan aan al die massas olifante.
Daarna gaan ry gerus op ʼn ‘rubberduck’ vir ʼn piekniek op die Chobe-rivier. Dit is nogal ʼn belewenis om ʼn groot trop olifante skaars 5 meter van jou af te hê wat swem.
Erindi-wildreservaat:
Vir my een-en-twingtigste verjaarsdag het ek ʼn vliegtuigkaartjie Namibië toe gekry. My ouers het hulleself saam genooi. Ons het Windhoek toe gevlieg met NamibAir en daar ʼn kar gehuur om verder noord te ry. Anderkant Okahandja, net voor Omaruru is die Erindi-wildreservaat geleë.
Hierdie 70,719- hektaar wildsplaas is een van die beste plekke in Afrika as jy van wild hou. Ons het by die Old Traders Lodge gebly. Hier word jy op die hande gedra. My kamer was luuks en spesiaal ingerig vir rolstoele, met baie plek om te beweeg. Dieselfde het gegeld vir die badkamer.
Erindi-wildreservaat in ’n neutedop…
- Jy word elke dag met van drie etes voorsien asook middagtee daarby.
- Die kos is beter as Kokkedoor sin. Die gidse wat selfs vir jou ʼn drinkdingetjie saam as jy gaan wildkyk.
- Die eetsaal kyk op ʼn watergat waar ons die eerste dag ʼn trop wildehonde gesien het water drink.
- Elke oggend en laatmiddag het ons ʼn draai gaan ry en gesogte wild soos leeus, luiperds en renosters raakgeloop.
- Een middag het ons selfsgaan luiperd-tracking ʼn Gids vat jou om ʼn luiperd met ʼn GPS-monitor om sy nek op te spoor.
Etosha Nasionale Park:
Ons volgende stop was die Etosha Pan in die Etosha Nasionale Wildtuin. Die plek se bekendste kenmerk is sy groot, uitgedroogte soutpan wat uit die buitenste ruim gesien kan word. Dan is daar nog al die wilde diere wat hier rond bly.
Ek het in spesiaal ingerigte selfsorgrondawelvir gestremde mense in die hoofkamp Okaukeujo gebly. Daarnaby was ʼn watergat (omhein natuurlik) waar toeriste kon sien hoe diere water drink. In die aande was die spreiligte aan. Renosters, leeus en olifante het kom saam suip.
Goeie raad vir dié geweste…
- Koop vir jou ʼn padkaart as jy by een van die hekke ingaan (ons is by die Anderson-hek in),
- Ry van watergat na watergat. Dis waar jy diere sal kry.
- Halali en Namutomi is twee ander kampe waar jy kan bly, maar hulle is ʼn entjie uitmekaar.
- Drink baie vloeistof (daar is badkamers vir ons)
- Pak baie sonroom
- Probeer gerus die Gemsbokfillet by die restaurant. Heerlik!
Vilankulos:
Ons almal droom van ʼn eksotiese eilandvakansie. Hawaii of die Maldives-eilande! So, doen wat ek gedoen het. Klim op ʼn vliegtuig Vilankulos toe. Dit is skaars twee-ure weg.
As jy hou van wit strande, helderblou water,vlak golwe, luukse akkommadasie, vars seekos, sappige skemerkelkies met skop, rus vir jou siel en waarde vir geld kom bly by Rio Azul Lodge.
Die oord se 4×4 kom haal jou by die lughawe en ry dan strandlangs tot by jou blyplek. Dis ʼn prentjiemooi rit. Jy hoor die golwe breek, jy sien die vissermanne hulle vangs met die nette uittrek. Die Bazaruto-eiland kan in die verte gesien word.
Die personeel is baie vriendelik en niks is te veel moeite nie. Jy kry drie etes per dag en die kroeg is die heeltyd tot jou beskikking. Vat ʼn sonsondergangrit op die varswatermeer waaraan die oord grens.
Jy het verskillende blyplekopsies. Ek het in die Villa gebly. Dit was baie rolstoelvriendelik. Daar was selfs ʼn swembad met ʼn trappie vir eie gebruik.
Om op die strand te kom met ʼn rolstoel was moeilik, maar hulle (Rio Azul) het baie vinnig ʼn plan gemaak. Ek is in die 4×4 gelaai en op die die strand gaan aflaai.
Moet-doen-dinge:
- Eet
- Rus
- visvang
- Swem
- Boot ry
- Snorkel
Indien jy in ʼn rolstoel sit of van iemand anders weet wat ten spyte van alles wil reis volg hierdie webwerwe vir advies.
http://www.safariguideafrica.com
http://www.disabledtravel.co.za
My raad aan voornemende reisigers is:
- Berei voor vir enigiets
- Moenie alleen reis nie
- Vra vir hulp
- Geniet dit
Die berge is steeds mooi blou. In die verte sien ek ʼn arend wat sweef.
“Hello Oom,” hoor ek ʼn stemmetjie hier langs my. Ek draai verskrik om. Die klein mannetjie is terug en kyk vir my sak.