Hohoho, Merry Christmas
Dames en Here, seuns en dogters. Katte en honde! Dis die laaste maand van die jaar! Ons almal weet wat dit beteken. En nee, dit beteken nie net vakansietyd of jaareind bonusse nie.
Dit is Kersfees. Daai tyd van die jaar wanneer die Kersfeesboom klaar opgeslaan in jou voorhuis staan en Boney M oral gespeel word. Soos Bing Cosby gesê het,
It’s the most wonderful time of the year.
Ons hou daarvan om te ‘Rocking around the Christmas Tree’ soos die liedjie gaan en boom op te slaan. Om iemand onder die mistletoe te probeer soen of om kersliedere soos Have Yourself a Merry Little Christmas of die film Home Alone of Deck the Halls te geniet.
Kinders (ons ouer gaardes het ook toe ons klein was) droom oor Kersvader en sy speelgoed fabriek waar duisende elwe werk. Hulle wonder hoe kry hy dit reg om ʼn sak vol presente reg oor die aarde in een aand af te lewer?
Hier in Afrika het ons nie koue weer of sneeumanne tydens Desember nie. Ons drink nie eggnog of gaan van huis tot huis en sing kersliedere nie. So, ons kan nie White Christmas hou nie.
Ons het darem ʼn paar kersbome en liggies om mee tevrede te wees. Kalkoen is volop in supermarke te kry. ʼn Lekker Somerkersfees. Dis beter as niks.
En dan praat ek nie eens van die geskenke nie. Ons kan dit nie help om Oukersaand heeltyd onder die boom te loer nie.
Maar dis nie waaroor ons Kersfees vier nie. Ons vier dit om Jesus Christus se geboorte te gedenk. God het sy seun vir ons gestuur om vir ons sondes te sterf.
Ons almal ken mos die mooi verhaal. Gaan lees hom weer om te onthou. Maria en Josef soek slaapplek. Hulle reis met die donkie. Kom aan in die dorpie Bethlehem.
Kom vra vir plek by die Herberg. Die stal is al plek beskikbaar. Die wysemanne daag op met hul drie geskenke. Die skaapwagters arriveer. Jesus word gebore. Die hele pragtige verhaal.
Nou is daar mense wat sê Kersfees het te gekommersiël geraak.Te paganisties. Mense fokus volgens die kritici meer op Kersvader, liggies en die koop van geskenke as op die geboorte van ons Verlosser.
Volgens hulle het hierdie versierings en geskenke geen plek in die Kerstyd nie. Kinders moet nooit aan Kersvader & versierings blootgestel word nie, want dit vernietig die oorspronklike rede vir die viering van Kersfees.
Elke mens is geregtig op sy opinie en om te glo waarin hy glo. Niemand het die reg om vir daardie persoon voor te skryf nie. Niemand nie.
Ek voel wel as jy en jou kinders weet wat is die regte rede (Jesus se geboorte) vir die viering van Kersfees en waarom ons die dag gedenk doen wat jy wil.
Sit op ʼn boom. Gaan koop ʼn geskenk vir iemand. Laat die kinders melk en koekies uitsit vir Kersvader. Ry in die aande en gaan kyk na die Kersfeesliggies wat mense by hul huise opgesit het.
Versierings in mense se huise het glo in die vyftiende eeu al begin toe mense klimop in die huise opgesit het om die geboorte van Jesus te simboliseer; huls om hom te beskerm teen gevaar; dorings en rooi bessies om die Kroon vol Dorings te simboliseer wat Jesus op sy kop moes dra toe hy gekruisig was.
Rooi, groen en goud is die primêre kleure van Kersfees. Dit simboliseer onderskeidelik Die bloed van Jesus wat gevloei het tydens die Kruisiging, die eweige lewe en een van die geskenke wat baba Jesus gekry het by die Wyse manne.
Dis ook seker waar die geskenke vir Kersfees vandaan kom?
In die sestiende eeu het die mense van Duitsland bome begin versier. Oorspronklik is net kerse opgesit, maar naderhand het mense begin om die bome op ander maniere te versier.
Duitsers het na ander lande soos die VSA en Brittanje geimmigreer en so die versiering van Kersbome gebruik van julle saam gevat en dit het posgevat by hul nuwe landsgenote en the rest is history.
As jy meer wil weet volg hierdie link as jy bietjie meer inligting soek oor hoekom Kersfees nie as paganisties beskou word nie nie.
Ek glo as dit nie vir kommersiële verkope was nie sou die boodskap nooit duidelik oorgedra word nie. Veral nie in hierdie moderne, gejaagde tye waarin ons leef nie. Ons mense van vandag leef nie meer soos in die verlede nie.
Ons het van dinge van ouds vergeet. Die mensdom het ‘evolve’. Kyk na my. Tot onlangs toe was ek nie seker wat Pinkster was nie of hoekom ons dit vier in die kerk nie. As besighede kon munt uit slaan hiermee weet ek, ek sou vroeër kennis dra daarvan.
Kyk na Valentynsdag! 14 Februarie. (Ek weet dit is nie ʼn dag wat geloof dek nie, maar nogtans). Dag van Liefde noem hulle dit. As winkels nie sjokolades in die vorm van harte of kaartjies met liefdesboodskappe in verkoop het nie sou ons dit nooit gevier het.
Mense kort liefde. Daarsonder kan jy nie. Die wêreld kort meer van dit.
Paasfees! Danksy die paashaas en sy ‘paaseiers’ weet ons dit is die tyd van die jaar wanneer ons Jesus wat aan die kruis vir ons sondes gestef het gedenk. Wanneer ons nagmaal hou.
As dit nie vir die sjokolade eiers was nie was Paasfees vining by ons verby.Net iets waaroor die dominee in die kerk preek. Ons sou dit nooit waardeur het nie.
Die jaar was rof. Elke jaar is. Vir enigiemand. Dinge was nie maklik. Jy is moeg. Sielkundig, fisies, emosioneel, geestelik.
Eintlik wil jy net God se Liefde vir jou met die mense na aan jou vier. Sy grootste geskenk wat hy aan jou gegee het gedenk.
Kersfees is ʼn tyd van hoop en liefde. Van daardie Kersfeesvibe wat net vir jou sê alles gaan oukei wees. Jy wil lag, ontspan, eet, vergeet en herinneringe maak. Hakuna Matata!
As dit nie vir kerskouse, konserte, mince pies, gammon, krakkers en Rudolf die Rooineus-takbok was nie sou ons nooit in die gees van Kersfees kom nie. Ons sou net aangegaan het met ons dinge. Halfhartig dit vier in die kerk. En dit is nie reg nie.
So daarvoor sluit ek af en sê: Danksy kommersiëlisme gee dit ons Christen mense op aarde die geleentheid om Kersfees en Jesus se geboorte ordentlik te vier.
Feliz Navidad