Goeiedag mense
Ek hoop dinge gaan wel. Ek hoop sommige dele van ons land kon darem bietjie reën kry en dat die brandstofprys al hoe laer gaan sak. Haha.
Ja, 2019 is ʼn nuwe begin en ek het besluit om iets nuuts te doen op my blog.
Ek gaan begin om resensies van eetplekke te gee. Restaurante, koffiewinkels, noem dit en ek doen dit. Ek wil net noem dat ek nog die fyner kunsies moet vervolmaak om ʼn kritikus te wees.
Naderhand wil ek ook oor gastehuise en B&Bs resensies gee.
Ek gaan my terminologie bietjie moet opskerp. Dit gaan tyd vat. Ek gaan nog nie gou soos die kritikus in die fliek Ratatouille wees nie. Nog te nat agter die ore.
Maar hoe sê hulle nou weer: ʼn Mens moet iewers begin.
Hier in my Valley waar ek woon het ek die gissings van ʼn nuwe eetplek wat gaan oopmaak gehoor. Gewoonlik hou ek nie my asem op nie.
Die mense hier rond hou daarvan om op die toerisme bandwagon te spring. B&Bs, gastehuise, padstalle, alles spring op soos paddastoele. En dan soms vou dit na ʼn jaar of wat.
Ek besluit maar ek gaan die plek ʼn regverdige kans gee. My kontakte vertel my laterhand hy is uiteindelik oop vir besigheid en ek beplan toe ʼn aandjie uit.
Die plek is glo oop elke dag vanaf 12:00PM tot 22:00PM, behalwe Maandae wat die personeel se afdag is.
Een aand vat ek vat die pad Winterton toe. Voor ek by die dorpie inry draai ek links op die R600 wat Ladysmith toe loop. Dis die pad wat jy ry na die Spioenkop Natuurreservaat toe.
Nou moet ek mooi loer. Dis donker. Ek wil nie die plek mis nie. My kontakte kon nou nie te waffers verduidelik waar sit die plek nie. Al wat hulle basies kon sê was “Dis naby ‘daai ou’ se huis” of “3 kilos met die pad aan, ander kant die bult, draai links.”
Ek sien toe gelukkig die bord met die naam Saleyard Steakhouse op aan my linkerkant.
Toe ek afdraai sien ek net ʼn paar skure. ‘Is ek op die regte plek?’ het deur my kop gemaal.
Toe sien ek al die voertuie wat daar geparkeer staan. Bakkies, Mercs, Fortuners. Vlugtig wonder ek of daar ʼn skuurdans aan die gang en hoekom weet ek niks daarvan nie?
Ek stap na die skure se kant toe. Ek hoor die gerammel van stemme uit een van die skure kom en gaan ondersoek dit. Ek stap deur die ingang van die skuur en dit voel of ek in ʼn ander dimensie in stap.
Die binnekant is mooi gedekordeer. Waar mens die binnekant van ʼn skuur kan assosieer met woorde soos vaal, vuil en koud kom die volgende woorde op: kleurvol, netjies en warm hier te sprake.
Die mure is in twee kontras kleure geverf: Modderrooi en kakiegrys. Dit werk mooi saam. Nguni-en springbokvelle hang aan die mure asook van die spesies se skedels met hier en daar ʼn portret op om die prentjie af te rond.
Dis amper asof die Saleyard ʼn Wilde Weste tema het met ʼn Afrika-twist.
Die plek het so ʼn warm en gesellige vibe. Die personeel is effektief, vriendelik en behulpsaam. ʼn Mens voel sommer tuis hierso.
Geen wonder die kommentaar op TripAdvisor was so positief nie. Mense kon nie uitgepraat raak oor die nuwe Steakhouse in die Berge nie.
Volg hierdie link:
Hier is die skakel na hul webtuiste
https://saleyardsteakhouse.business.site/
Volg hulle op Facebook @saleyardsteakhouse
Daar is twee levels in die restaurant. Toe ek op die onderste level wou gaan sit sien ek daar is net trappe. Dit sou dadelik my opinie van die Saleyard beȈnvloed het as een van die vriendelike kelners nie vir my gesê ek moet haar volg nie.
Ek volg haar by die ingang uit buite toe, om die gebou en toe af met ʼn rolstoelvriendelike paadjie wat afloop tot by nog ʼn skuifdeur en voila, ek is in en op die onderste vlak.
Dalk moet die bestuur daaraan dink om ʼn afdak bo-op die paadjie te bou en ʼn sloot teen aan te grou. As dit reën sal niemand in ʼn rolstoel hom nie verbeel hy is by Ushaka se waterglybane nie.
Ek vermoed hierdie paadjie het die beeste afgeloop as hulle ‘Saleyard’ toe moes gaan om gespekuleer of verkoop te word.
Oral is houttafels met lekker stoele. Onthou julle daardie clipboards wat jou juffrou altyd gebruik het om register te neemof jou naam op die detensielys te sit?
Nou die spyskaarte was in die vorm van clipboards. Alles wat te ete was is op spierwitpapier gedruk en aan die clipboards vasgemaak.
Die plekmaatjies was ook uniek. Op dit was ʼn diagram van ʼn bees en dit illustreer waar op sy liggaam die spesifieke soorte vleis gevind kan word soos die fillet. Siende dat die plek ʼn steakhouse is was die diagram baie opvoedkundig
Die kroeg is tops. Daar is alles wat jou hart na verlang. Kroegstoele. ʼn Toonbank.Wyn, bier, skemerkelkies, shooters, enigiets wat jy wil drink. Probeer gerus hulle Purple Haze-cocktail.
As jy gedurende die dag hier kom eet sien jy so een mooi uitsig van die berg en die vallei. Hier is baie speelplek vir die spruite. Jy kry daardie plaasgevoel is jy rustig daar gaan middagete genuttig.
Ons is nou nie eintlik hier om oor die bysake te praat nie. Ons is hier oor die kos.
Ek moet darem noem ek was sedert my eerste keer ʼn paar keer weer daar. Elke keer eet ek iets nuut.
Hulle voorgeregte is baie lekker. Ek kan die carpaccio voorstel. Die fyn gekerfde rou vleis is lig en smaaklik. Die gebraaide Camenbert en die Crumbed Mushrooms is lekker opsies om te oorweeg.
En die escargot. Dit is slakke mense! Seeslakke! Die knoffel waarin hulle dit gaarmaak en die brosbroodjie wat hulle saam bedien werk goed saam. Soos Vinkel en Koljander.
Moenie bekommer wees nie ma en pa, daar is ʼn spyskaart vir die kleingoed. Ek kan nie spesifiek onthou wat daar was nie, ek het daardie deel geskip. Maar ek vertrou daar was uitstekende opsies.
Dan dan is daar die hoofgeregte. En mense, dis nie vir vegatariërs nie, (daar is wel ʼn ander vegetarian opsie beskikbaar).
Al julle karnivore daar buite, lek solank julle lippe af, sorg dat julle Gaviscon en Rennies naby het indien jy dalk ʼn sooibrand-aanval kry en sorg dat jou cholesterol-vlak laag is.
Nie net is hier hamburgers met skyfies, spaghetti met Italiaanse frikkadelle , hoenderdisse bv. hoender schnitzel en seekos bv. calamari rings of garnale nie, hier is alles wat ʼn werklike karnivoor se hart begeer.
Elke liewe tipe steak waaraan jy kan dink. Fillet, rump, rib-eye,t-bone, porterhouse, sirloin. Gebraai soos jy na verlang. Met puik bykosse ook nog. Dan is daar nog ʼn Beef Espetada, murgbene, tjops, ribbetjies.
Probeer die Tommahawk-steak. ʼn Lekker stuk spesiaal gedoogte ribeye, bros gebraaide skyfies met ʼn lekker sousie wat die vleis komplimenteer.
Surf& Turf is ook ʼn goeie opsie met sy sappige, krui-gerolde biefstuk met romerige mossels en vars groente.
My pens was barstens toe vol, geen plek vir nagereg nie. Maar, volgende keer …
Ek waardeur hierdie Steakhouse baie. Dis ʼn nuwe plek vir die mense van die area om te kan kuier en ontspan. Dit is sowaar ʼn juweel. Wel gedaan aan die eienaars en die personeel. Tim Grobler en sy span moet ook ʼn applous kry. Die kos is subliem. Magnificent!
Ek rate hierdie plek: 8 uit 10.
Mense sal dink dit is ʼn swak telling. Dis glad nie die geval nie.Ek was nog nooit by ʼn plek vir wie ek volpunte sal gee nie.
Ek word nie maklik beȈndruk nie, maar die Saleyard is skaars ses maande oop. Hulle is nog in hul babaskoene en hulle verstom my keer op keer.
Ek kan nie wag om my terug keer te maak nie. Knapgedaan. Mag julle nog baie jare deel van ons ou geweste wees.
Arrivederci