Nuwe jaar. Nuwe dinge. En dit is ʼn nuwe rugby jaar.
Behalwe 7de Laan en die krieket (#ProteaFire) is daar nie veel wat my aandag trek nie.
En daars nou net oorsese rugby op TV. Die Engelse Premierskap, die Pro14, die Top 14 of die Europese-beker.
Ja, ek weet daars oor die twee honderd van onse spelers wat daai kant speel, maar ek soek regte egte Suid-Afrikaanse rugby.
Wat gaan gebeur hierdie jaar? Ons gaan moet kyk.
Hier is my voorspellings vir 2019.
Supersport-uitdagings-reeks
Ai, die ou Vodacom-Cup. Hoeveel groot naam spelers het nie danksy hierdie kompetisie naam gemaak nie? Hoeveel rowwe diamante is nie hier geïdentifiseer nie?
Hoeveel kleiner unies speel nie altyd hulle harte uit teenoor mekaar nie of teen groter unies se tweede spanne nie?
Maar SARU se geldkrisis het veroorsaak dat unies finansieël met minder oor die weg moet kom. Baie van hierdie spanne sal sukkel om spelers te behou of selfs te betaal.
Al wie ek dink oukei sal wees en met goeie spelers wat hulle kan behou en kan meeding is spanne wie se unies ʼn Superrugby-of ʼn Pro14-span het.
Hierdie unies het kapitaal en n groot spelersgroep waar ʼn span vir hierdie kompetisie gekies kan word.
Of die Poemas en die Griekwas wat van volgende seisoen af (2019-2020) in die die Pro16(vergrote Pro14) sal speel. Hulle kry nou nuwe borge en geldelike hulp om reg te wees.
My wenners: Die Blou Bulle of die Griekwas.
Rugby Kampioenskap-reeks
As die Bokke elke wedstryd speel soos wat hulle in die Wellington toets (36-34) teen die All Blacks gespeel het behoort ons hom te wen. Nieu-Seeland is besig om hul flair te verloor.
Vanjaar se kompetisie is verkort omdat dit ʼn Wêreld-beker jaar is, so dus speel die manne in die groen-en-goud net een keer teen Nieu-Seeland en Australië, maar twee keer teen Argentinië.
Die Bokke moet net kophou, dan behoort ons die wa deur die drif te trek.
Ses Nasies
Ek glo nie daar gaan veel verrassings wees nie. Ierland gaan weer wen, met Wallis op sy hakke.
Skotland het ʼn buitekans, maar ek dink hulle gaan vasval teen die Iere en die Wallisers.
Engeland is ook nie meer so goed soos wat hulle dink hulle is nie. Hulle staar ook die gevaar om dieselfde padjie as Frankryk te loop deur hul voorbeeld te volg.
As jy deesdae ʼn koerant of ʼn link opmaak dan lees jy van ʼn rugby speler wat vir ʼn Engelse Premierliga-klub gaan speel. ʼn Paar jaar gelede was dit net Frankryk toe gewees.
Rugbybase het die regulasies verslap en klubs kan soveel buitelandse spelers as wat hulle wil kontrakteer. Dus word plaaslike spelers se plekke gevat deur huursoldate van ander lande.
Italië of Frankryk behoort weer die houtlepel te vat. Dat spanne soos Duitsland of Georgië nog aan die Europese Divisie (ʼn Ses Nasies B-Afdeling) moet deelneem gaan my verstand te bowe. Hul rugby standaarde verbeter elke jaar met rasse skrede.
Blitzbokke
Ek dink die Blitse is in ʼn herbou fase. Hulle het ʼn paar staatmakers soos Kwagga Smith, Tim Agaba en Saebelo Senatla aan vyftienmans rugby verloor. Nuwe spelers moet ontwikkel word vir die span. Dit gaan tyd vat.
Ten minste is daar nog ervare ouens soos Kyle Brown en Cecil Afrika wat ervaring het en leiding kan neem.
Hulle het in die eerste toernooie van die sewes-reeks in Dubai en Kaapstad vasgebrand. Daar is nog agt toernooie oor waarvan hulle ʼn paar kan wen.
Die reeks-oorwinning dink ek wel gaan eers volgende seisoen plaasvind,
Fiji is ʼn span met baie talent, vaardighede, spoed, krag en ervaring. Dit is moeilik om hulle te keer. Die ander spanne is nes ons. Wisselvallig.
2018/2019 Wenners: Fiji
Super Rugby
Ek kan julle nou inlig dat die wenner weer uit Kiwiland gaan kom. Die Nieu-Seelandse spanne het net te veel skietgoed.
Ons spanne van Suid-Afrika gaan sukkel om by te bly. Nie dat Nieu-Seelandse spanne onoorwinbaar is nie. Inteendeel. Ons het hulle almal keer op keer al geklop.
Kyk vir die Lions. Hulle het al vir drie-jaar in ʼn ry Nieu-Seelandse spanne uit die uitspeel westryde geklop.
Ons behoort om maklik vir die spanne van Argentinië, Japan en Australië in toom te hou.
My geld is op die Bulls en die Sharks om die Suid-Afrikaanse spanne te wees wat die uitspeelwedstryde haal.
Die Sharks is ʼn Kampioenspan (2018 Currie-beker wenners), het ervaring, talentvolle spelers en ʼn gedugte afrigtersspan.
Die Bulls het spelers soos Duane Vermeulen en Schalk Brits van oorsee af gewerf wat ervaring kan bring. Rosco Specman wat vir die Blitse diens gedoen het bring sy X-faktor saam.
Die oud-Springbok Cornal Hendricks maak na vier jaar sy terug keer op die rugbyveld nadat dokters hom aangeraai het om rugby te los. Saam met die ander spelers behoort die manne van Loftus ʼn span te wees wat honger is vir sukses.
Die Stormers is te wisselvallig.
Die Lions het kern spelers soos Franco Mostert en Jaco Kriel verloor aan Europese Klubs. Jong spelers gaan nou na vore moet kom en dit gaan ʼn groot leer kurwe vir hulle wees.
Strydosse soos Malcolm Marx, Warren Whiteley en Lionel Mapoe is darem nog daar vir die ervaring
My wenner: Chiefs of Crusaders (Nieu-Seeland)
Pro14
Ek dink nie die Cheetahs of die Kings gaan veel hierdie seisoen reg kry nie. Hulle staan albei heel onder in hul afdelings, of te minste tweede of derde laaste.
Ons moet maar kyk na volgende seisoen. Die Cheetahs het hierdie seisoen baie nuwe spelers gekry omdat ander spelers in die afseisoen na Superspanne of Europese klubs geskuif het.
Die vorige seisoen moes die Kings spelers van ander unies blitsvinnig nader trek om in ʼn maand se tyd ʼn span te vorm. Dit was chaos. Hulle kon net een wedstryd wen.
Hierdie seisoen moes hulle van voor af begin met spelers. Ten minste is die spelers om lang termyn geteken sodat die span in die toekoms verder kan ontwikkel.
My wenner: Leinster of Munster(Ierland)
Currie Cup
Rugbybase baklei so baie oor die Currie Cup deesdae mens begin wonder of dit die moeite te werd is om na te kyk.
Daar is pal veranderinge wat plaasvind: Die hoeveelheid spanne wat toegelaat word, wanneer dit moet plaasvind, hoeveel rondtes gespeel moet word ens.
Die kompetisie is die oudste rugby kompetisie in die wêreld. Dit was gesien as die ideale platform om spelers vir die Bokke uit te soek.
Met professionele rugby en Super Rugby deesdae is dit maar net ʼn kweekskool vir Super Rugby spelers. Niemand gee meer regtig om nie.
Party spelers verkies egter om na die Super-reeks ʼn draai in Japan te gooi om geld te verdien en die Currie-beker te mis. Voor die volgende seisoen is hulle terug by hulle spanne.
Spelers wat oorsee gaan om in Europa te gaan speel waai ook meestal voor die begin van die Currie Cup. Dis net wanneer die rugby in die Noordelike Halfrond begin.
Al die unies speel nie eens meer teen mekaar nie. Daar is twee Currie-beker ligas.
Daars die Premier Divisie (Bulle, Vrystaat, Sharks, Lions, WP, Griekwas,Pumas en die Eastern Province Kings) en die Eerste Divisie (Griffons, Border Bulldogs, Valke, SWD Eagles, Leopard, Cavaliers en die Welwichitas van Namibië).
Die Sharks staan volgens my ʼn groot kans om die Currie-beker weer te gaps. Hulle behoort meeste van die spelers te behou.
Die Bulle het genoeg diepte en opwindende jong spelers.Heelwat Bulls spelers behoort by die Bokke in Japan te wees dus kry die jong manne kry kans.
Currie-beker Premier Divisie: Bulls of die Sharks
Currie-beker: Eerste Divisie: Valke
Varsity Cup
Dit is amper tyd vir die beste tyd van studente rugby. Die eerste Maandag van Februarie skop die Varsity Cup af. UJ teen die Pukke.
Al is ek ʼn Kovsie-ondersteuner (UFS Shimlas) glo ek die drie spanne wat veral dophou moet word is Maties, UJ en Wits.
Maties (Universiteit van Stellenbosch) was nog altyd ʼn sterk span. Hulle het sterk voorspelers en ʼn vinnige agterlyn. Hulle het kundige afrigters en ʼn groot fanbase.
UJ (Universiteit van Johannesburg) verbeter elke jaar en ek glo hulle kan vanjaar ʼn gedugte span wees.
Wits (Universiteit van die Witwatersrand) het laas jaar ʼn goeie seisoen beleef. Hulle het ʼn paar groot wedstryde gewen teen onder andere Tuks (Pretoria) en Ikeys (Kaapstad) wat goed genoeg was om te kwalifiseer vir ʼn semi-finaal.
Die ander spanne is vir my te wisselvallig. Dalk verras hulle my nog. Wie weet? Ek hou egter voet by stuk by Maties, UJ en Wits.
My ander voorspellings:
Young Guns: Tuks Young Guns
Varsity Shield: UKZN
Koshuis Rugby: Vishuis (As hulle nie gekwalifiseer het nie, die koshuisspan van Kovsies wat wel gekwalifiseer het).
U20 Wêreld-beker
Hierdie internasionale kompetisie wat vir die juniors in Argentinië plaasvind is baie belangrik. Dit identifiseër toekomstige stêrre an die spel.
Dit is vir my moeilik om te voorspel wat gaan gebeur.Junior spelers van ander lande is iewat onbekend aanmy.
Frankryk se span laas jaar het almal verras toe hulle gewen het. Engeland se span is ook sterk. Ek verwag van een van die twee om die finaal te haal.
Ons Baba Bokkies kom darm altyd by die semi-finaal uit, brand vas en moet dan tevrede wees met derde plek. Maar ek moet noem ons klop gereeld vir die Baba All Blacks.
Ek dink ons Bokkies kan dit vanjaar doen. Veral as hulle spelers van laas jaar se seëviërende Sharks U/19 span vat wat die seisoen onoorwonne afgesluit het.
Wêreld-beker
Daar moet nog baie water in die see voor ons kan sien wie gaan wen. Die vraag op almal se lippe is: Gaan die All Blacks die eerste rugby span word wat die Wêreld-beker drie keer op ʼn streep wen (vier keer altesaam) of gaan hulle ‘choke?’
As ek kyk hoe die Kiwimanne teen die Bokke in Wellington (amper op Loftus ook) en teen die Iere in Dublin vasgeval het en hoe amper Eddie Jones se Engelse Rose hul kaarte omgekrap het op Twickenham dan besef ek hoe average die ABs eintlik is. Al wat jy kort om hulle te wen is ʼn goeie wedstrydplan en ʼn tikkie geluk.
Behalwe die All Blacks (moet hulle nooit ondeskat nie) is my twee ander spanne wat ek sien kan die finaal haal definitief Ierland en natuurlik die Bokke. My buiteperd is Wallis.
Netdie tyd sal leer of ek reg kon voorspel.
Lekker rugby kyk
Cheers