Malibu Palms: Ladysmith se ‘Cheers’

Howzit mense

Hoe lyk vings? Ek hoop dinge loop wel? Ek hoop julle gesondheid en bankbalans loop klopdisselblom.

Dis tyd vir my tweede resensie. Dankie vir julle ‘response’ op my eerste een. Julle is fantasties.

Plek: Malibu Palms

Nee, dit is ver van Kalifornië of Florida af. Geen celebs hang hier rond nie. Behalwe miskien die eerste span kaptein van negentien so-en-so of ʼn oud mej. Ladysmith finalis.

En daar was ook geen Malibu-ooievaars nie.

Al hoekom ek dink die plek sy naam heet is oor die palmbome wat by die ingang staan.

Adres: Read Straat no.12, Ladysmith, KZN.

Malibu is ʼn gewilde kuierplek in die dorp. Almal ken dit. Vir party is dit ʼn huis weg van die huis af.

Vir ʼn ou wat in die week in Ladysmith skool gegaan het, moes hy hoor hoe die dorpskinders praat van die plek.

Hang af na wie jy geluister het. Elkeen het ʼn ander storie gehad.

Party mense het gepraat van die gesinsvriendelike plek met die lekker kos wat bedien word.

Die ouer manne het gebrag oor die kuiers wat hulle al kamstig daar gehad het en een van my maters sweer hoog en laag die B&B het die lekkerste beddens (hy het daar gebly want sy huis moes glo gefumigate word).

Hulle het van die plek gepraat soos die Durbaniete van TigerTiger praat en die Pretorianers van Weiveld.

Ek het altyd vir myself belowe ek gaan hierdie plek uitkyk. Die jare het intussen aangestap.

So ʼn paar maande terug klim ek en my mense in die kar en ons ry Malibu toe!

Dit was my eerste keer daar.  (Ek besluit toe juis nou die dag om weer te gaan sodat ek Malibu Palms ʼn beter resensie kan gee).

Ons stop toe daar, reg om te rol. Gou-gou sien ek daar is ʼn probleem. By die ingang  staan dit lewensgroot voor ons. Soos ʼn monster wat wag vir sy slagoffer.

Dit was ʼn groot stel trappe. Dit het gelyk (en gevoel) of daar meer trappe is as by die Statue of Liberty(377 by the way). Daar was geen ramp nie. Dit was glad nie rolstoel toeganklik nie.

Elke besigheid in die gasvryheidbedryf moet rolstoel toeganklik wees. Dis een van die vereistes.

Gelukkig het ek ʼn paar sterk (en nugter) manne byderhand gehad om my op te vat want eks lig genoeg (danksy my banting-diet) en my rolstoel kan maklik op gedra word.

Dink net aan iemand wat nie so bevoorreg is soos ek nie? Iemand met ʼn elektriese rolstoel? Dis swaar stoele daai.

Ek besef ook as daar nie ʼn ramp onder is nie, sal daar ook nie ʼn rolstoelbadkamer bo wees nie (ek was reg)! Wat gebeur as ʼn gestremde persoon regtig by ʼn badkamer moet uitkom?

Uiteindelik kom ons bo. Dadelik sien ek die swembad. Hiers ʼn swembad maar nie  ʼn rolstoelvriendelike oprit nie?!

Die swembad lyk wel baie aanlokkend om bietjie af te koel in hierdie hitte.

Die swembad word in twee gedeel deur ʼn klein dek met tafels op. As jy aan die ander kant wil kom moet jy of uitklim en omloop of onderdeur die dek swem.

Om die swembad geplaas sien ek die plek is basies in drie gedeel.

Kroeg: ʼn Gewone pub kroeg wat mens maar orals kry. Daar is ʼn paar tafels met stoele binne met snoeker tafels en kroegstoele by die toonbank. Niks flashy nie. Iewers speel musiek.

Hulle maak nogal ʼn lekker skemerkelkie. Probeer  gerus die Call me a Cab. Hy het o.a vodka en Malibu rum in en hy skopraak soos ʼn Springbok-loskakel.

As jy ʼn shooter-opsie wil probeer kies die Gingerbreadman. Een van sy bestandele het Jaggermeister in. Hy piets ʼn mens nogal, maar dis kwaai.

Al wat bietjie gepla het was iemand wat die skemerkelkies moes meng het die resep vergeet . Die persoon moes bietjie opswot. So ver was ek nog baie impressed nie.

Dek: Daar is tafels buite langs die swembad onder die afdak of  onder die sambrele op die dek waar jy kan kuier en eet.

Dit is baie warm daar (seker koud in die winter ook) en die muskiete jag bloed daar om jou.

Restaurant: Die restaurant is aan die regterkant van die perseel. Hy het darem ʼn leker lugverkoelings-stelsel. Die binnekant is mooi versier met ʼn nautical-tema.

Ligblou mure met ankers, reddingsboeie, houtbokse en skeep-stuurwiele op. Een muur het so ʼn mooi mural van ʼn sonsondergang op die strand.

Die sitplekke is banke (nes die Wimpy sin, net ʼn donkerige kleur).

Die plek was maar stillerig elke keer as ek daar is. Ek dog dis dié kuierplek. Mens wonder wat aangaan.

Of dalk was dit maar regtig net stil aande. Of nie? My bronne lig my dat die plek in die mark is.

Waar daar ʼn rokie trek…

Malibu het baie keuses op hul spyskaart. In die paar keer dat ek daar was het ek en my metgeselle ʼn paar geregte beproef. Meeste van disse op die spyskaart kry mens ook op ander plekke.

Hier is ʼn paar voorbeelde van wat daar te kies om te eet is.

  • Middagete-spyskaart soos Hamburgers of biefstuk.
  • Kinder-spyskaart: Nie gekyk nie.
  • Nagereg: Mississippi Mud Pie, Velvet of Kaas-koek en ʼn paar ander bekendes.
  • Nespresso: Julle weet mos daardie koffie kapsules met die spesiale filtermasjien wat ou George Clooney so adverteer. Hulle het al die flavours gehad. Ek sou een gedrink het as ek nie reeds so ʼn masjien gehad nie.
  • Ek het ʼn hele paar voorgeregte beproef. Gekrummelde sampioene, gebraaide Camenbert-kaas met ʼn bessie-sous saam met melba toast, garnaal pakkies, slakke. Die Camenbert-gereg was uiters besonders.So sag en smaaklik. Die res van die geregte het maar soos enige ander plek sin geproe.

Wat my so bietjie gegrief het was dat ek lus was vir Botterskorsie-sop. Toe hoor ek dit is so skaars soos die Currie-beker in Pretoria! Iemand aan my tafel wou Tempura garnale bestel het. Hulle het nie dit gehad nie. Dit was dan op die spyskaart? Wat?

  • Seekos soos calamari, garnale en vis. Gebraai of gegrill. Met bykosse soos groente of skyfies. Dis nou nie Ocean Basket nie, maar heel oukei.
  • CrazyCombo’s soos Ribs &Calamari of Vis en Garnale. Soos enige ander steakhouse sin.
  • Hoenderdisse: Chicken Schnitzel. Die Spur sin is beter.
  • Vleisdisse: Fillet of rumpsteak met verskillende vulsels, bykosse en souse. Dit het lekker gelyk en geproe.

Ten spyte van ʼn bietjie baie teenspoed is hierdie plek bo-gemiddeld. Die plek is aangenaam. Mens kry darem ʼn goeie vibe en jy word hartlik ontvang deur die personeel.

Ek gee die plek: 6 uit 10. Lesers wat my vorige blog gelees het weet ek het vir ʼn uitsonderlike restaurant 8 uit 10 gegee. Ek gee nie volpunte nie. Ek trek 2 punte af oor die gebrek aan rolstoel toeganklikheid. Nog twee punte omdat daar nie geweet is hoe om die skemerkelkies te meng nie en dat daar nie disse was wat op die spyskaart is nie. Hul gasvryheid kry darem ʼn plus puntjie by my.

As jy meer wil weet: http://www.malibupalms.co.za

Ek hoop as ek weer ʼn draai kom maak wag die ‘ramp’ vir my.

Vaarwel liewe lesers

Published by Tief

Ek blog oor dinge wat vir my interessant is en wat my aandag trek...

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: