Ons almal ken mos die woord Cowboys! Daardie manne van die Wilde Weste met die breërandhoede wat Crooks en Indiane laat les opsê het.
Daai manne wat pal in die Saloons gaan kuier het en op die ranches met beeste geboer het. Daai manne met die dodelike skote en wat nou nog rhinestone-stewels dra.
Nou die dag kyk ek na drie van Clint Eastwood se Western flieks, A Fistful of Dollars, For a Few Dollars More en The Good, the Bad and the Ugly.
Dit is goeie kykstof. Hollywood maak nie meer sulke tipe flieks nie.
Hier is nog ʼn paar bekende Cowboy-films wat lank nog onthou sal word.
- The Magnificent Seven
- 3:10 to Yuma
- The Man from Laramie
- The Comancheros
Baie van hierdie flieks het die volgende elemente gehad.
- Iemand moet ʼn bende vastrek wat vir die gereg wegkruip
- Beskerming van eiendom
- Wraak
- Skattejag
- Buffeljag
- Iemand verken die ongerepte wêreld en begin ontwikkel aan ʼn ranch of ʼn dorp
- Bakleiery met die Indiane op wie se grond hulle is
Daar is nie net Western-flieks wat hierdie elemente bevat nie. Dit bestaan in boeke ook. Daar is baie Western-boeke wat op die rakke is.
Louis L’amour
Hy is een van die bekendste skrywers ter aarde. Hy het 89 romans en 14 kortstories op sy kerfstok. Asook twee nie-fiksie boeke. Al hierdie verhale het meestal ʼn Western tema.
Hier is van die boeke wat uit sy pen gekom het.
https://en.wikipedia.org/wiki/Louis_L%27Amour
My gunsteling boek: Sackett’s Land
William W. Johnstone
Hierdie man het baie in sy lewe gedoen voordat hy voltyds begin skryf het.
Hy het vir ʼn karnivaal gewerk, het diens gedoen in die weermag, hy was adjudant-sheriff en hy het vir 16 jaar by ʼn radiostasie gewerk.
Kyk hierso vir sy werke. Hy het oor die 200 boeke agter sy naam gehad.
https://www.thriftbooks.com/a/william-w-johnstone/205774/
My gunsteling boek: Preacher’s Fury
Na sy afsterwe het sy niggie (J.A. Johnstone) met die familie tradisie voortgegaan en begin om te skryf.
Dana Fuller Ross
Noel Gerson was ʼn skrywer wat gereeld onder ʼn klomp skuilname geskryf het. O.a Dana Fuller Ross.
Die boeke wat onder Dana Fuller Ross se naam verskyn het is almal deel van die Wagons West-reeks.
Dit is 24 historiese romans wat vertel hoe die pioneers na die staat Oregon toe getrek met die ossewaens (nes die Voortrekkers) en watter teenspoed hulle gekry het en hoe hulle oorleef het.
Verder vertel die boeke ons hoe die pioneers en hul nageslag ʼn rol gespeel het in die ontwikkeling van Oregon en ander state in die VSA.
https://en.wikipedia.org/wiki/Noel_Gerson
My gunsteling boek: Nebraska!
Craig Johnson
Onthou julle daardie tv-reeks Longmire met die akteur Robert Taylor in die hoofrol? Dit gaan oor Sheriff Walt Longmire van Absaroka County in Wyoming wat al daardie sake moes oplos.
Wel, hierdie reeks is op Craig Johnson se boeke gebasseer. Daar is heelwat verskille en ooreenkomste . Lesers sal self moet kyk en besluit.
Ek moes hulle koop as ʼn e-boek. Dit is nie in die winkels beskikbaar nie.
http://www.craigallenjohnson.com
My gunsteling boek: Another Man’s Moccasins
Ek wou maar net kortliks vir julle aandui daar is skrywers met ʼn Western-tema en cowboy-karakters. Hulle leef nie net in flieks of musiek (country musiek) nie.
Kry die boeke en lekker lees.
Adios