Goeiedag liewe lesers
Ek hoop dinge gaan wel? Dit gaan goed hierdie kant. Die reën het uiteindelik geval en die Super Rugby is op hande.
My gedagtes is by al die leerlinge en hul families wie se lewens onherroeplik verander het deur die Vaaldriehoek-tragedie. My innige meegevoel en simpatie.
Terug na my rede vir hierdie blogpost. Al ons rugbyondersteuners weet te veel van ons land se top rugbyspelers word met kontrakte wat ʼn bankkluis propvol geld waarborg na Europa en Japan toe gelok.
Die Pond, Euro en die Yen is net soveel sterker daardiekant as ons ou Rand. As die spelers eendag terug kom SA toe het hulle aansienlik finansieële vryheid om vir hulself ekonomiese sekerheid te gee.
Vyftien, twintig jaar terug was dit vreemd om ʼn Suid-Afrikaanse speler vir oorsese spanne te sien speel.
Dit was gewoonlik net manne wat aan die einde van hul loopbaan was en bietjie wou bylas by hul pensioen.
Toe word daar begin om spelers van ander lande vir die Europese en Japanese klubs te werf. Maak nie saak wat sy (die speler) se ouderdom was nie. Maak nie saak of hy vir die nasionale span speel of nie.
Ek onthou romdom 2004 was die Springbok Jaco van der Westhuizen een van slegs ʼn handjie vol beroepspelers in Japan. Kyk nou hoeveel professionele spelers gaan nou Japan toe.
Vandag is dit anders. Baie jong spelers verkies dit om te verkas om oorsee geld te gaan verdien. Kyk nou maar na Pierre Schoeman (Edinburgh), Clayton Blommetjies (Scarlets) en Franco Marais (Gloucester).
Hulle is al drie voorbeelde van moontlike Springbokke wat die pad na groener weivelde gaan soek het en wat dalk moontlik in die toekoms kan kwalifiseer om vir sy aangenome land te speel.
Faf de Klerk (Sale Sharks) en Vincent Koch (Saracens) is voorbeelde van jong spelers het reeds vroeg in hul loopbaan groener weivelde gaan soek het ten spyte van die nasionale span.
Cheslin Kolbe is so ver ek weet die enigste persoon wat vir die Springbokke gekies is terwyl hy oorsee (vir Toulouse in Frankryk) gespeel het.
Jong spelers soos Curwin Bosch (Munakata Sanix Blues) en RG Snyman (Honda Heat) is voorbeelde van jong spelers wat in die Suid-Afrikaanse afseisoen gewerf word om in Japan te gaan speel.
Geld beheer rugby. Dis nou maar wors.
Daar is deesdae ʼn ander liga wat die rugbywêreld aan die gons het. Die Verenigde State van Amerika (VSA) se Major League Rugby (MLR).
Kyk hier
ʼn Paar dinge wat jy moet weet van MLR
- Die kompetisie strek amper ses maande lank
- Daar is sover nege spanne in die liga; 8 van die VSA, 1 van Kanada
- Die spanne speel twee keer teen mekaar
- Die reeks het in 2018 ontstaan
- Die eerste seisoen se wenners was die Seattle Seawolves
- ʼn Poging om ʼn soortgelyke reeks te stig het in 2016 plaasgevind. Dit was PRO Rugby genoem, maar het egter misluk
Huidige spanne se name (mens kan sommer sien waar hulle gesetel is)
- Austin Elite
- Toronto Arrows
- Glendale Raptors (Denver, Colorado)
- Utah Warriors
- Rugby United New York
- Seattle Seawolves
- San Diego Legion
- Houston SaberCats
- New Orleans Gold
Moontlik toekomstige spanne
- New England Free Jacks (Boston)
- ʼn Span van Washington DC, Atlanta, Los Angeles, Dallas en Chicago.
Soos die tyd aanstap sal die kompetisie groei en meer geld gaan gegenereer word en al hoe meer spanne gaan geskep word. Dit beteken meer spelers, meer geld.
Amerika is bekend as ʼn land waar sport aanbid word. Groot geld is betrokke by professionele sport in hierdie land.
Kyk net hoe baie geld maak die basketball en American Football spelers. Miljoene!
Hul (VSA) sewes span verbeter al klaar elke jaar. Dink net hoe goed gaan die vyftienmanspan wees as die spel eers behoorlik ontwikkel word? As hulle die hulpbronne en ondersteuning kry wat al die ander sport soorte in Amerika geniet?
Terug na ons eie land toe.
Suid-Afrika is werklik ʼn rugbyfabriek. Ons voer rugbyspelers uit soos goud. Hier is ʼn magdom spelers. ʼn Klomp van hulle sal nie eens hier plek kry by plaaslike seniorspanne nie.
Dus sal hulle hul heil oorsee gaan soek. Soos die spel wêreldwyd groei, sal nuwe ligas geskep word (kyk maar na RAPID RUGBY) en spelers sal meer opsies en geleenthede hê.
Wat ek vandag vir julle wil sê daar is reeds ʼn klomp jong SA spelers wat hul heil in die land van oom Donald gaan soek het. Hulle almal, oud en jonk soek die American Dream.
Hier is ʼn paar VSA spelers met SA wortels en die MLR klubs waaraan hul gebonde is
- Hanco Germishuys (Glendale Raptors)
- Shaun Davies (Glendale Raptors)
Hier is ʼn lys van die Suid-Afrikaanse spelers, hul huidiglike spanne en die spanne vir wie hulle in SA gespeel het. In geen alfabetiese volgorde nie.
*Voormalige spelers
Glendale Raptors
- Carlo de Nysschen (Cheertahs o/19)
- Dwayne Pienaar (Leeus o/21)
- Robbie Petzer (Griffons; Cheetahs; SWD Arende)
San Diego Legion
- Dean Muir (Grens Bulldogs; Sharks; Valke; WP)
- JP du Plessis (WP; Cheetahs;OP Kings; Stormers; Southern Kings )
- Joe Pietersen (WP; Cheetahs; Stormers; Sharks, Blitzbokke)
- *Dolph Botha (Shimlas;Cheetahs)
- *Lance Lamprecht (Sharks)
Houston SaberCats
- Ayron Schramm (WP; Duitsland)
Seattle Seawolves
- Stephan Coetzee (Sharks,Southern Kings)
- JP Smith (OP)
- Riekert Hattingh (Blou Bulle)
- Matthew Turner (WP; UK Ikeys; Engeland se sewespan)
Rugby United New York
- Teunis Nieuwoudt (SWD Arende)
- Alwyn van Vuuren (Tuks)
Austin Elite
- Tiaan Erasmus (CUT Ixias)
- Dylan Pieterse (Boland Kavaliers)
- Rikus Zwart (Sharks o/21; Griffons)
- Brendan Rams (Valke)
Utah Warriors
- Franco van den Berg (Blou Bulle)
Toronto Arrows
- Guiseppe du Toit (was jonk toe sy ouers Kanada toe verhuis het)
New Orleans Gold
- Tristan Blewett ( Sharks; Southern Kings)
- Vince Jobo (Cheetahs; Valke; OP Kings)
Meer van ons spelers sal die MLR verkies om na toe te gaan.
MLR moet maak soos die MLS (Major League Soccer) gemaak het in 2007. Hulle het ʼn wêreldberoemde sokkerspeler Amerika toe gelok om die sport se gewildheid ʼn groot hupstoot te gee.
David Beckham (voormalige speler van Real Madrid en Manchester United) het by die LA Galaxy sokkerspan aangesluit. Dit was ʼn groot gebeurtenis. Mense het vining van sokker bewus geword danksy die Beckham-storie.
Dit sal nie lank wees voor een of ander rugby superster by die liga (MLR) aansluit nie. Iemand soos Quade Cooper of Owen Farell. Dalk ʼn Springbok of vier?
Dit sal die David Beckham oomblik van VSA rugby wees. Van daar af sal daar geen omdraai kans wees nie.
Mense regoor Noord-Amerika sal kennis neem van die spel.
Kinders op skoolvlak sal rugby begin speel en soos hulle ouer word, word hul vaardighede en ervaring al hoe beter; universiteitsrugby gaan gewilder raak; klubrugby gaan oor die land heen posvat. Meer mense sal die spel steun en speel.
Amerika gaan oor tien jaar in die Top Tien op die Internasionale Ranglys wees. As Japan dit kon doen tydens die laaste Wêreldbeker-toernooi …
Oor dertig jaar op die meeste sal hulle een van die drie beste spanne op aarde wees.
En dit danksy die hulp van spelers wat ʼn land aan die suide van Afrika huis noem…
Baai, tot weersiens