Yes yes yes
Hoe klop dinge? Aan die brand hoop ek? Ek hoop Valentyns was vir jou ook fantasmagories. Ek hoop jy is lekker bederf.
Ek sien elke jaar uit na Valentynsdag.
Hoekom, wonder mens? Ek is dan single.
Eerstens, omdat mense vir single-ek jammer kry en altyd vir my iets stuur. Kaartjies. Sjokolades. Dit het al op Hoërskool begin. Probeer die mense iets vir my sê?
Op ʼn stadium het ek meer kaartjies as die eerstespankaptein gekry.
Tweedens, sodra die Dag van Liefde verby is kan ek myself, maar sielkundig voorberei op die Superrugby-seisoen wat wag!
Dit begin altyd ʼn week of wat na die 14de Februarie. Vanjaar begin dit slegs die volgende dag. Jippee!
Gepraat van rugby.
As jy die media die afgelope tyd dopgehou het sou jy sien ons land se rugby was onder bespreking
- Unies wat met minder geld oor die wegmoet kom
- SA se spelersgetalle wat drasties gaan verminder
- Ons land se spelers wat met vet-tjeks na oorseese klubs gelok word
- ʼn Hele paar spelers het aangedui hulle gaan vanjaar na die Wêreldbeker in Japan ons grense verlaat om Euros, Ponde/Jen te gaan verdien, o.a die Springbok-slot Eben Etzebeth (Toulon).
Daar is self berigte dat SA se veertien rugby-unies vervang moet word met 8 professionele provinsiale spanne.
Einde 2017 het die Pumas en die Griquas Franchise-status gekry. Dit beteken hulle kan in die nabye toekoms in ʼn vergrote Pro16 (huidiglik Pro14) speel.
Hier is ons 8 professionele spanne wat hulle wil behou
- Sharks
- Bulls
- Lions
- Stormers
- Cheetahs
- Kings
- Pumas
- Griquas
Die ander kleiner unies moet dan of wegval of meer van klubspelers gebruik maak. Dit steek my diep in my krop.
Kan jy jouself indink? Suid-Afrikaanse rugby sonder die Bolandse Kavaliers of die Luiperds daar uit Potch se wêreld.
Daar is soveel geskiedenis by hierdie spanne aangebonde. Soveel legendes het diep spore vir hierdie spanne getrap. Hulle vorm deel van Suid-Afrikaanse-rugby se identiteit.
Kleiner unies sukkel om spelers te behou omdat die geld skraps is, maar SARU wil van ten minste 500 spelers by die groter unies ontslae raak? Hoe werk dit?
Hoeveel Springbokke/Blitzbokke het nie in hierdie professionele era van ons hul stempel eers by hierdie klein unies afgedruk nie? Hoeveel rowwe diamante is daar nie gevind om geslyp te word nie?
Willie le Roux (Boland Kavaliers)
Lukhanyo Am (Valke)
Cecil Afrika (Griffons)
Makazole Mapimpi (Border Bulldogs)
Hoeveel soortgelyke spelers gaan verlore gaan, want die strukture om hulle op te vang is nie daar nie? Duisende!
Heelwat junior spelers skuif kleiner unies toe na hul o/21 dae as hulle nie die senior span maak, gereeld speelkans kry of om ʼn kontrak iewers anders te kry nie.
Nou gaan jy by my wil weet wat SA kan doen om die opbreking van kleiner unies te keer en te verhoed dat meeste jonges die pad vat.
SARU moet MLB (Major League Baseball) in Amerika se voorbeeld volg.
Kyk na hul webtuiste as jy meer wil weet:
MLB is die top professionele baseball-liga in die VSA. Hy bestaan uit 30 spanne uit. Daardie spanne staan bekend as ʼn organisasie bv. die New York Mets staan bekend asThe New York Mets Organization.
Voor ek aangaan wil ek net noem dat daar verskillende vlakke van professionele bofbal (sy Afrikaanse naam)is waarvan die MLB is die hoogste een is.
- Tripple A
- Double A
- Class A-Advanced
- Class A
By elkeen van hierdie vlakke is daar heelwat verskillende ligas wat plaasvind.
Die groot, ryk MLB spanne is almal aangeslote tot die verskillende spanne op die verskillende vlakke.
Hierdie vlakke noem hulle ‘Minor League Baseball’. Hulle (MLB-spanne) sal bv. spelers, hulpbronne, borge en kundigheid leen en uitruil.
ʼn Span soos die Boston Red Sox sal bv. besluit om ʼn speler uit hul organisasie na een van hul aangeslote spanne op die Tripple-A vlak te stuur sodat hy wedstrydfiks kan word of ervaring opdoen.
Dit is wat SARU die 8 professionele spanne moet laat doen. Daar is so baie spelers by die groot unies wat wag vir speeltyd, maar glad nie kans kry om te speel nie. Daar is juis ook baie juniors wat nie plek kry oor ʼn span propvol is.
Die groter unies moet nes die MLB-spanne geaffilieer raak met die kleiner unies. Dink net; iemand soos die Bulls betaal klaar ʼn speler se salaris, maar hy kry nie speelkans nie. Dan stuur die Bulls hom na hul aangeslote span wat in die Eerste Divisie speel. ʼn Laer vlak!
Die klein unies hoef hom (speler) nie te betaal nie en die speler speel gereeld en hy kry kans om te wys wat in hom steek. Hy sal nie mismoedig voel of sommer ʼn behoefte hê om pad te gee nie.
Die klein unies kan dalk ʼn ander speler meer betaal met die geld wat hy spaar. En hy het ʼn top kwaliteitspelet wat die klas van die spel net kan verbeter.
Nog ʼn opsie is dat die junior spelers aangeslote spanne toe gestuur word om ervaring en vaardighede te kry. As hy teruggaan na sy unie toe is hy ʼn beter, afgeronde speler.
Volgens my bronne gaan daar nie meer ʼn onder-19 en onder-21 Currie-beker soos vroeër jare wees nie. Dit word vanjaar gekombineer na ʼn onder-20 liga. Dit beteken klaar minder spelers.
Klein-spanne kan dalk by hul groot aangeslote spanne in die week oefen as hulle naby geleë is en dan naweke na hul tuisstadion terug keer. Bv. die Griffons oefen saam met die Cheetahs.
Daar is so baie variasies wat jy vanaf die MLB kan interpreteer in die rugbystrukture.
Ek hoop ek kon julle darem so iewat aan die dink sit.
Met al my liefde
Vaarwel