Hola mense
Ek vertrou dat dit geweldig goed gaan met julle? Dat julle die week so ver geniet?
Elke dag word ons gebombardeer met nuus. Of jy nou na die radio luister, sosiale media volg of Maroela Media lees. Goeie nuus, slegte nuus, fopnuus, sportnuus,skindernuus . Noem dit op en dis daar.
In hierdie geval het was dit sportnuus wat my nogal gegrief het.
Nou die dag vind ek uit dat twee Sharkls-rugbyspelers drie-jaar kontrakte geteken het met Sale Sharks, ʼn ryk rugbyklub in Engeland. Ek het gehoop dis fopnuus, maar ongelukkig was dit inderdaad die geval.
Ek verstaan hoekom dit so aanlokkend vir plaaslike spelers is om aanbiedings van oorsese klubs te aanvaar. Dit is ʼn nuwe avontuur. ʼn Nuwe leefstyl. Dit is veilig in daardie lande. En die finansële aspekte praat ook. Money makes the world go around.
Ons rand het nie ʼn kat se kans teen die pond,euro of jen nie. Dit is geld vir hul lewe na rugby. Alle goeie dinge kom mos tot ʼn einde. Veral die manne wat nog nooit ʼn werk gehad het of klaar gestudeer het nie.
Hierdie Sharks-spelers is nie die enigstes wat pad vat nie. Die Springbokslot Eben Etzebeth skuif na die Wêreldbeker in Japan Toulon in Frankryk toe.
Daar is gerugte dat Steven Kitshoff en Frans Malherbe, albei Springbokke ook oppad oorsee is.
Volgens ander gerugte is daar ook ʼn paar Bulls spelers soos Jesse Kriel, Hanro Liebenberg en Handre Pollard wat in Europa se groener weivelde wil gaan wei. Kenners meen nog baie and top spelers van SA oorweeg dit straks om hul heil oorsee te gaan soek.
Nee, dit mag net nie gebeur nie. Oor die driehonderd van ons top spelers jaag klaar ovaal balle in die Noordelike Halfrond.
Daardie is kwaliteitspelers. Ons kan nie nog aan die rykklubs oorlaat nie. Veral met die spelers wat langtermyn-kontrakte teken met oorsese-klubs nie.
Dit ontneem hulle die geleentheid om deel te wees van iets besonders. Nie alle rugbyspelers kry ʼn kans om hierdie omblik te beleef.
Diegene wat dit beleef sal as hulle eendag as outoppies op die stoep sit onthou hiervan. Dit is iets wat geld nie kan koop nie.
Julle wonder seker waarvan praat hierdie man?
Ek praat van die Britse en Ierse Leeus wat in 2021 in Suid-Afrika kom toer!
Dit gebeur net elke twaalf jaar. Dis ʼn kombinerende span met die top spelers van Engeland, Ierland, Skotland en Wallis.
Elke vier jaar onderneem hierdie span ʼn toer na een van drie spesifieke lande in die Suidelike Halfrond. Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika in ʼn 12 jaar-skedule.
In 2013 was hulle in Australië, 2017 in Nieu-Seeland en uiteindelik kom hulle weer in 2021 vir ons kuier. Die toerspan sluit in ʼn groot getal spelers. Maklik oor die 35 van hulle.
Hulle speel nie net drie toetse teen die gasheerland nie, hulle laat hulle tweedekeuse spelers los om teen die provinsiale en gekombineerde-spanne klem af te steek vir ʼn plek in die toetspan.
So dit beteken spelers by die land se groot rugbyspanne soos die Sharks en die Bulls sal ʼn geleentheid kry om teen die besoekende span kragte te meet.
Al word hulle nie vir die Springbokke gekies nie. Dis nie vir enigiemand beskore. Dis ʼn eer.
As klomp van ons plaaslike spelers die pad vat waarmee gaan ons die Britse Leeus probeer troef? Hulle (Leeus) gaan ons provinsiale spanne vermorsel.
Die Leeus is Brittanje en Ierland se beste. Ons moet ons ‘beste’ kan gee. Dit help ook jy span ouens in wat uit die junior-strukture kom nie.
In ʼn ideale wêreld sal die Suid-Afrikaanse Rugbyunie ʼn span saam stel uit spelers wat aan oorsese klubs verbonde is en nie sommer vir die Bokke nader getrek sal word nie.
Kan jy jou indink aan die spelers wat gekies kan word?
Hier is ʼn voorbeeld. As ek iemand uitgelos, jammer.
- Oli Kebble
- Franco Marais
- Pierre Schoeman
- Gerbrandt Grobler
- Franco Mostert
- Jaco Kriel
- Chris Cloete
- Nizaam Carr
- Cobus Reinach
- Jaco vd Walt
- JP Pietersen
- Juan de Jongh
- Jan Serfontein
- Wandile Mjekevu
- Frans Steyn
Reserwes
- Ashley Johnson/ Jody Jeneker
- Ruan Dreyer
- Marcell van der Merwe
- Flip van der Merwe
- Michael Rhodes
- Ruan Pienaar
- Johan Goosen
- Duhan van der Merwe
Om ʼn geleentheid te kry om teen hierdie ikoniese span te speel sal jou altyd by bly. Daar is geskiedenis wat van oor ʼn 100 jaar strek tussen die Springbokke en die Britse en Ierse Leeus.
Daar is so baie gebeure wat in die anale opgeteken is. Gebeure wat rugbyliefhebbers nou nog bespreek.
Van die gebeure wat vandag nog onder bespreking is
- Eerste toer na SA vind plaas in 1888, maar dit kry nie erkenning van die Britse Rugbyraad nie. Die eerste amptelike toer was in 1891 wat twee maande geduur het en die Leeus (daardie tyd het hulle net as die Brittish Isles) was onoorwonne vir 20 wedstryde. Die sakemagnaat Cecil John Rhodes was een van die borge gewees.
- Hulle toer weer in SA in 1896 vir 2 maande waar hulle 17 wedstryde op ʼn streep wen. Hulle wen die reeks 3-1 en in die tweede toets teken SA sy eerste punte in internasionale rugby aan. Na die toer het twee spelers (Thomas Crean en Robert Johnston) agter gebly en het ʼn paar jaar later in die Anglo-Boere Oorlog geveg waarvoor hulle albei ʼn Victoria Cross gekry het.
- In 1903, ʼn jaar na die oorlog het Leeus weer kom toer. Dit was hulle swakste toer tot dusver. Hulle kon net die helfde van hul wedstryde wen. Hulle het drie toetse teen SA gespeel, twee gelyk op en een verloor.
- In 1910 het hulle twee toetse verloor en een gelykop gespeel. Hulle het hul eerste wedstryd teen Suid-Rhodesië (Zimbabwe) gespeel en gewen.
- In 1924, 1962 en 1968 verloor die Leeus hul toetsreekse 3-0.
- Die drie maande in Afrika was die Leeus se voorland in 1955. Hulle het wedstryde teen Suid-Wes Afrika (Namibië), Oos-Afrika (Kenia) en Suid-Rhodesïe gespeel en onoorwonne uit die stryd getree. Die toetsreeks teen die Bokke was gelykop.
- In hierdie twee en ʼn half maande lange toer van 1974 het die Leeus (met spelers soos JPR Williams en Willie John McBride) alles voor hulle plat gevee. Slegs in die laaste wedstryd het hulle ʼn gelykop telling gehad. Hierdie toer was ook bekend vir ‘Die Slag van Boet Erasmus Stadion’ wat as een van die vuilste wedstryde vol gemene spel onthou word.
- Die toer na SA in 1980 was amper afgelas omdat die Britse regering nie wou assosieer met die Apartheidsregering nie. Die toer het toe wel voort gegaan met SA wat die reeks 3-1 beklink het. Groot name wat vandag as belangrik in die land se rugbykringe geag word soos Naas Botha, Ray Mordt en Morné du Plessis het hier gespeel. Die huidige voorsitter van Wêreldrugby Bill Beaumont was ʼn speler vir die besoekers.
- SA verloor die reeks in 1997 a.g.v ʼn laat skepskop in die tweede toets deur Jeremy Guscott.
- SA wen die reeks 2-1 nadat Morne Steyn se skopwerk in die tweede toets hulle gered het van verloor af. Dit is die reeks waar Heinrich Brussouw, Bismarck du Plessis, Tendai ‘Beast’ Mtawaira en Steyn self sterk na vore getree het as Springbokke. Die Bokke het die ‘dirt-trackers’ in die laaste toets ʼn kans gegeee wat hulle ongelukkig a.g.v hierdie keuse verloor het.
Sien julle. Dit is nie sommer net ʼn ou reeksie wat jy opgee nie. Dit is ʼn geskiedkundige gebeurtenis. Die toer is ʼn tradisie. ʼn Tradisie wat lank gelede ontstaan het.
ʼn Tradisie wat 3 oorloë, ʼn klomp tsoenamis en Apartheid oorleef het. ʼn Tradisie wat ten spyte van professionele sport vandag nog voortleef.
As jy meer oor hierdie besoekende span wil weet kyk hier:
Soos ek bo gesê het, ek verstaan die finansiële vooruitsigte. Ek verstaan dit. Regtig man. Maar jy (speler) moenie vergeet hoekom jy rugby speel nie. Die geld is ʼn bysaak.
Jy speel vir jou spanmaats, vriende en familie. Jy speel vir jou land. Dis wie jy is. Jy speel vir die liefde van die spel. Jy speel vir geleenthede soos hierdie. Om deel te wees van iets besonders. Moenie jou siel vir ʼn pot lentjiessop verkoop nie.
Hoekom aanvaar spelers vir nou nie net Japanese kontrakte nie? As die Japanese rugbyseisoen verby is val hulle by hul SA spanne in en maak reg vir Superrugby. As die Leeus arrivveer is julle steeds hier.
Of ʼn korttermyn-kontrak by ʼn Europese span tydens die afseisoen in SA. Dit is dieselfde beginsel. Hulle is nie verlore vir SA rugby nie en hulle bank so bietjie buitelandse valuta in hul bankrekeninng. Almal wen.
Iets om oor na te dink. In daardie geval, mooi bly!
Cheers