‘Tower of Pisa’ in Suid-Afrika

“Out of sight, out of mind,” gaan die sê-ding mos. Mens is geneig om van goed naby aan jou te vergeet in hierdie vinnige tye waarin ons leef. Self op die platteland.

Saterdagaand het ek so ʼn bietjie rugby gekyk en gebraai, veerpyltjies gegooi, ʼn glasie Jaggermeister gedrink en bietjie kaart gespeel. Met Alabama en Don Williams op die agtergrond. Goed wat gewone Suid-Afrikaners doen op ʼn Saterdagaand.

Sondagoggend besluit ek wil nie weer braaivleis eet nie. Ek het heelaand nagmerries gekry oor die skaap wie se tjops ek verorber het.

Ek besluit toe dis tyd dat ek weer Tower of Pizza toe gaan.

Nee, dit is nie Tower of Pisa in Italië nie. Dink julle ek sal my geld mors op dit? Ek sal eerder Londen of die Grand Canyon gaan verken.

Ek praat van een van die juwele van die Noordelike Drakensberge.

Rigting (as jy van die N3 afkom)

  • Draai af by Harrismith en klim op die N5 en hou aan met ry
  • Aan jou linkerkant sien jy ʼn bordjie wat sê R74 Bergville. Draai af en hou aan
  • Gaan af by die Oliviershoekpas
  • Na 38km draai dan regs by ʼn bord wat sê Northern Drakensberg Road (Die R74 gaan deur Begrville en Winterton)
  • Die pad lei jou na die Koninklike Nasionale Park.
  • 6km op die pad kry jy Tower of Pizza aan jou linkerkant

Ek besluit om my suster en haar geliefde saam te vat, dat hulle ook bietjie kan uitkom.

As jy meer wil weet van die plek:

https://www.towerofpizza.co.za

Die pad daarheen is mooi. Grasgroenvelde en helder berge! Beeste wat wei en die mielies wat so mooi regop staan. Ou Langenhoven sou hieroor kon dig.

Ek het baie goeie memories van die Tower of Pizza.

Toe ek jonger was (Laerskool-ouderdom) het ons baie hiernatoe gekom vir ʼn lekker pizza. My 10de verjaarsdag-partytjie was hier gewees. Ons het ʼn lekker krieketgame gespeel.

Wat van daardie dag toe ons Sondagskoolkinders vanaf die NG Kerk op die dorp met ons fietse Tower of Pizza toe gery het vir middagete?

Die ouers het ons gevolg met die karre. ʼn Paar bakkies het voor ons uitgery om die aankomende voertuie van ons teenwoordigheid te waarsku. ʼn Paar mammas en pappas wat nog gedink het hulle is 18 en fiks het ons begelei.

Ons het in skofte gery. Jy ry ʼn skof, stop, iemand anders vat jou fiets waarmee jy ry en jy gaan ry in een van die karre. So het ons beurte gemaak.

Hierdie man het nie fiets gery nie. Hy het met sy geel Suzuki 50cc vierwielmotorfiets die pad gevat. Hoeveel knapies kan vertel hulle het dit gedoen? Girls, as dit nie troumateriaal is nie dan weet ek nie.

Ons kom daar aan. Oral staan daar karre. Dis was duidelik dat daar meer mense is as wat daar Maandag-aand by die Shimlas teen Tuks Varsity-beker wedstryd was.

My eerste indruk is dat die parkerarea nie rolstoel geskik is nie. Dis klipperig en heel onvoldoende vir ʼn rolstoel. Langsaan was daar slegs ʼn grasperk met ʼn heuweltjie. Weet jy hoe moeilik stoot ʼn rolstoel op die gras?

Gelukkig het ek my toekomstige swarrie daar gehad en hy stoot my daar uit. Was ʼn gesukkel gewees. Uiteindelik kom ons toe by ʼn voetpadjie uit en alles daarna is smoot sailing.

My tweede indruk is dat hierdie plek baie het om te bied.

  • Daar is banke buite onder die bome om te sit en kuier
  • Daar is hope speelplek vir die kinders om uit hul gestresde ouers se hare te bly
  • Daar is ʼn internet kafee dat jy bietjie ophoogte bly van sake.
  • Die plek is uniek en is ʼn groot bate vir die Noordelike Drakensberge.
  • Die plek is ʼn B&B en is baie gasvry. ʼn Ou pel van my het hier gebly so ʼn paar jaar terug en hulle (Tower of Pizza) het vir hom en sy meisie ʼn piekniekmandjie gepak vir ʼn wandeling by die Koninklike Nasionale Park, want die man het trouplanne gehad.
  • Die stoele op die restaurant se stoep is van ou pizzapanne gemaak.
  • Jy kan geskenkies hier koop

Tower of Pizza het begin toe die eienaars ʼn pizza-oond (wat met hout warm gemaak word) in ʼn ou graansilo ingebou het vir eie gebruik. ʼn Saadjie is geplant en die resultaat was daar voor my.

Ons is vriendelik ontvang deur die personeel en na ʼn tafel begelei. Die restaurant was skoon en netjies. Ek het geen probleem met die diens gehad nie.

Ek het oudergewoonte ʼn expresso-koffie gedrink om my wakker te kry.

Daar was baie verskillende pizza opsies. Hulle name was ook uniek en is vernoem na bergpieke in die Drakensberge!

  • Monks Cowl (kaas, salami, agurkies, tamatie, ui en kruie)
  • Champagne Castle (Ham, kaas, tamatie, pynappel en kruie)
  • Mount-aux-sources (Kaas, tamatie en kruie)
  • Injasuti (Kaas, tamaties, olywe, ansjovis, kapertjiesade en knoffel)

Daar is nog ander voorbeelde soos bv. Dragons Peak’s en Cathkin Peak. Mens kan ekstra toppings bysit en vir die Banting-volgelinge is daar ʼn spesiaal gemaakte deeg bestaande uit amandels, kokosneut en eiers).

Ek het die Camels Hump-pizza geeët. Dit het kaas, tamatie, piesang, kruie en spek op. Dit was liplek-lekker. Die kombinasie van piesang en spek is vullend en die kruie bring ʼn heerlike smaak na vore. Die pizza self is genoeg om enige mens vol te maak.

Daar is ander opsies ook op die spyskaart

  • Groente-sop
  • Lamskerrie
  • Tramezzini met verskillende vulsels bv. biefstuk-repies met sampioensous.
  • Vis & Tjips
  • Slaaie bv. Waldorf-slaaie
  • Pasta disse bv. Spaghetti-bolognese

Volgens die internet is daar ʼn kriteria waarop jy ʼn pizzaplek kan beoordeel.

Hierdie link gee vir ons die tien kenmerke van ʼn kwaliteit pizzaplek. Ons moet volgens hierdie stelsel beoordeel. Ons moet ʼn telling uit tien gee.

https://joshmosey.wordpress.com/2012/11/28/how-to-rate-pizza-joints-the-10-factors-of-quality-pizza/

Hier is die kenmerke. Kom ek wys julle hoe vaar Tower of Pizza teenoor hierdie kriterea.

  1. Kors: Soos Baba Beer se pap: Net reg
  2. Sous: Lekker dikkerig. Met knoffel en kruie.
  3. Vulsels: Unieke kombinasies wat baie lekker vullend is. Glad nie soos Hilda se rowwe kombinasies nie.
  4. Kaas: Geen problem wat ek opgemerk het nie. Kaas is kaas.
  5. Waarde: Hulle is nie so duur soos party plekke in die bedryf nie. Jy kan enige kos bysit op jou pizza. Gereelde klante kry afslag. Na elke tiende besoek kry jy die elfde keer afslag.
  6. Higiëne: Skoner as ʼn steriele labotorium
  7. Atmosfeer: Dit het ʼn rustige atmosfeer, maar ook lekker gesellig, binne en buite. Dit voel soms of Pavarotti enige tyd kan optree en sy stem wat sal eggo oor die berge. Of dat Klipwerf enige tyd ʼn vastrap gaan speel.
  8. Ligging: Bietjie ver van die dorpe af. Hulle lewer nie af nie. Aan die ander kant, dit is wat hom so aantreklik maak vir mense. Weg van alles en almal. Die hele plek se ligging en stemming laat my dink aan foto’s wat ek van Toskane in Italië gesien het. Dog het die plek ʼn plaas-geur ook. Die reuk van ʼn bakkende pizza en die reuk van die reën wat die vorige nag geval het oorval my neusgate.
  9. Diens: Vlukse diens. SAL kan by hulle kom leer.
  10. Eienaar beskikbaarheid: Meer as by die Vrede-suiwelplaas

As ek volgens die kriteria moet beoordeel gee ek hulle: 9 uit 10!

Ek as mens gee Tower of Pizza 8 uit 10. Julle ken my. Ek gee nie volpunte nie. Ek trek punte af omdat die parkeerarea nie rolstoelvriendelik is nie. Ons gestremdes moet ook voor ‘gecater’ word. Die res was piekfyn!

So nou en dan moet jy die gemaksone van jou braaivleisvuur en huis los en die omgewing gaan verken.

Dit was my eerste keer in drie jaar by Tower of Pizza. Ek sal nie weer so lank wegbly nie.

Baai

Published by Tief

Ek blog oor dinge wat vir my interessant is en wat my aandag trek...

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: