Naand mense!
Hoe gaan dit? Gee Eskom julle nog steeds probleme? Toemaar, vir my ook.
Die krag is af ek en ek moet vining my resensie tik voor my battery ingee en hoe gouer ek klaar is hoe gouer kan ek begin met die volgende ene.
Voor ek aangaan wil net my medelye aan die mense van Christchurch en Mosambiek gee. Mag die Vader julle seën en omvou met Liefde en Genade en dat julle by die anderkant sal uitkom.
Kom ons kom terug by my plasing!
Daar is baie misterie en geskiedenis aan die Drakensberge verbonde. Of dit nou fabelagtige drake is of ʼn storie dat ʼn vrou kaalvoet oor die Drakensberge wou stap.
Hier is baie geheime wat nog dormant onder die oppervlakte vir ons lê en wag om oopgekrap te word.
Net nou die dag het ek op ʼn ongekende juweel van die Drakensberge afgekom. ʼn Juweel wat ek altyd by verby gery het oppad na ander plekke in die berge toe.
Daardie dag het ek op die R600 gery. Vir die wat nie weet nie, dit is die pad tussen Winterton en die Sentrale Drakensberge. 13km aan die regterkant (oorkant die Thokozisa-sentrum) is ʼn plek wat by my opgeval het ek en ek besluit toe om te gaan ondersoek instel.
Hoe sê hulle mos: Beproe alles maar behou die goeie.
Plek se naam: Lihong’s Asian Cuisine
As jy meer wil weet kyk hier: https://www.lihongs.co.za
Sy hele ingangslaning wapper met vlae. Dit lyk soos die Verenigde Nasies. By die ruim(en rolstoelvriendelike) parkeerarea is daar twee bordjies wat die spot dryf met Westerse persepsies van ʼn plek wat Oosterse kos bedien.
Die eerste een sê, “Welcom turist, we spik Inglish.” Is dit nie maar ook hoe ʼn Boere-oom sou spel nie? Die ander bordjie sê, “Beware of the dog. The cat is not trustworthy either.” Baie van ons konserwatiewes glo mos by so ʼn volksvreemde plek gaan onheilige dinge aan.
Dis glad nie so nie.
My eerste indrukke van die plek was positief
- Die hele plek was 100% rolstoelvriendelik
- Waar die kos voorberei word is oop vir almal om te sien
- Daar was WiFi as jy gou-gou die plek op TripAdvisor wou uitkyk
- Die personeel het ons vriendelik ontvang. Niks was te veel moeite nie.
- Daar was kleinafdakke buite as jy nie binne wou sit nie
- Daar is ʼn kroegie/ontspanningsarea met ʼn TV, perfek vir pappa om die krieket te kyk
- Daar is speelplek vir die kinders buite (gelukkig hoef ek eers oor 10 jaar daaroor te bekommer)
Ek is binnetoe vergesel. Die eetplek was mooi versier met Chinese sambrele en Chinese lanterns wat aan die dak afgehang het. Die mure was elegant versier.
Een muur het selfs ʼn African Mural gehad met ʼn Chinese tema. Een afskorting was selfs propvol skreeusnaakse Chinese gesegdes en spreekwoorde geverf. Dis oorsproklik. Vars.
Lihong’s Asian Cuisine se keuses op die spyskaart was ʼn samesmelting van disse uit lande o.a Korea,China, Thailand en Vietnam. ʼn Mengelmoeskardoes!
Kyk na hul spyskaart op die webtuiste: https://www.lihongs.co.za/menu
Hier is baie lekker disse om te genutig. En dis glad nie buitensporig duur nie. Hier is self soesji, fortuinkoekies en ‘dumplings’.
Ek het die Chinese Garnaal Spring Roll as voorgereg gekies. Hy was varsgebraai in die olie en heel smaaklik. Die binnekant se vulsel van garnale en groente het goed saamgewerk.
Vir hoofgereg het ek ʼn Koreaanse Roerbraai met Varkvleis geniet. Nou weet ek hoekom my een tjom so lank in Korea Engels gee. Hy wil nie huis toe kom nie, want hy eet te lekker.
In hierdie dis was behalwe die sappige varkvleis, geurige groente vanaf die Ooste en tuisgemaakte noedels. #ToDieFor
Vir nagereg het ek en my metgeselle (ja, ek was nie alleen nie) ʼn paar opsies probeer. Ons het Spring Rolls met onderskeidelik sjokalade, malvalekkers en gebraaide piesangs geeët.
Toe het ons gebraaide roomys probeer. Dit is basies ʼn diepgebraaide samosa met roomys in. Dit was interessant en heel uniek.
Hierdie plek maak ook heerlike skemerkelkies. Ek het die Vietnam Venom en die Singapore Sling probeer. Ek is spyt ek het nie opgelet wat daarbinne in was nie. Al wat ek weet daar was drank in.
Al sleg ding was dat hulle elke dag om 16h00 sluit. Hulle is nie saans oop nie. Waarheen moet ʼn man nou sy nooi uitvat? Sy keuses raak beperk.
Daar is nie net ʼn restaurant op die perseel nie. Nes by die Waffle Hut is ʼn kers en mat fabriek. Die mooiste matte en kerse word hier gemaak.
Matte van alle kleure, teksture en grotes. As ʼn mat nie klein of groot genoeg is nie, vat hulle bestellings en maak een volgens jou spesifikasie.
Dieselfde geld vir die kerse. Met die feit dat Eskom se wiele begin afval is kerskoop almal se voorland. Jy kan net sowel ʼn paar mooies koop.
As jy beplan om binnekort Bosveld toe te gaan koop vir jou ʼn Citronela-kers vir R10. Dit sal daai muskiete weghou.
Die fabriek was rolstoeltoeganklik, maar hier en daar was ʼn squeeze om verby die rakke te kom.
Ek gee hierdie bate vir die Berge 9 uit 10: Ek gee nie sommer volpunte nie. Hierdie plek oortref al my verwagtinge. Ek gee Lihongs Asian Fusion ʼn ekstra punt vir sy uniekheid en vindingrikheid.
Ek bedoel, wie sou nou kon dink hier sal ʼn restaurant wat Oosterse kos maak in die Berge oopmaak? Beslis nie my voorgeslagte nie.
Julle in die kontrei bly of die wat hier ʼn draai kom gou kan hierdie plek beslis ʼn kans gee. Ek kan julle waarborg julle sal nie spyt wees nie.
Totsiens