Ja ja ja
Howzit mense! Hoe gaan dinge? Het julle lekker naweek gehad? Het enigeen van julle een van Ed Sheeran se konserte gaan kyk? Plaas die man bietjie Durbs toe kom dan was ek ook daar.
Dit was ʼn goeie naweek vir ons sport. Bafana Bafana het gekwalifiseer vir die Afrika Nasies-beker en die Proteas het vir Sri Lanka 3-0 kafgedraf in ʼn T20-reeks.
Wat het julle van die rugby gedink? Die Bulle is met een moewiese slag terug gebring aarde toe met ʼn verlies van 56-20 teen die Chiefs. Op Loftus! Wat ʼn vernedering!
Gepraat van rugby, ek was die naweek in Durban gewees om die wedstryd tussen die Sharks en die Rebels op Kings Parks by te woon.
Ek het behalwe om rugby te kyk, te shop tot ek drop en Captain Marvel te gaan besigtig by Gateway op die grootskerm, het ek gaan stap op die Parade.
Selfs in die aand. Almal kla oor die tekort aan veiligheid en higiëne, maar dis nie hoe ek dit ondervind het nie. Ek het self ʼn roomys gekoop daar by die Joe Cools-kompleks. Die plek is uiters besig op ʼn Vrydag-aand.
Ek was selfs by Ushaka Marine World. Na soveel jaar sedert sy bestaan is hy nog steeds gewild. Die hele plek, (akwarium inkluis) was 100% rolstoelvriendelik.
Oral was daar selfs badkamers vir gestremdes. Dan om die mariene lewe wat in ons oseaane woon in lewende lywe te aanskou was in een woord :amazing!
As jy ʼn ekstra geldjie het gaan na die winkels toe, kyk uit vir Grandma’s Fudge Shop ,daar is geure vir Afrika.
Vir R55 kon ek vier vier blokkies uit die verskillende geure kies: Milo, Amarula, Turkisk Delight en Milky Bar.
ʼn Paar aande voor die game was dit my keuse om te kies waar ons eet. Ek het nog altyd van Umhlanga en sy vibe gehou en ek gaan kyk toe op die internet na my opsies.
Plekke soos Butcher Boys, Turn ʼn Tender en Mozambik was al reeds aan my bekend. Ek wou ʼn nuwe plek probeer. Ek wou ʼn nuwe kos styl op proef stel.
Ek Google toe best restaurants in umhlanga en die plek van my keuse pop toe uit danksy Tripadvisor.
Mythos
Dit is ʼn regte egte Griekse restaurant in Umhlanga. Volgens die woordeboek beteken ‘mythos’ basies ‘‘ʼn storie van ʼn onwaarskynlike wêreld’.
Mythos is een van ʼn paar bekroonde restaurante wat onder hierdie naam bekend staan. Hulle is maar versprei tussen KZN en Gauteng.
Die hoofkok het ʼn klomp van haar familie geregte op die spyskaart ingebring en baie van die bestandele word van Griekeland af ingevoer. Die pryse is ook glad nie belaglik nie.
Ek moet sê ek het nie geweet wat om van ʼn Griekse restaurant te verwag nie. Ek het gewonder of ek en my rolstoel gaan moet koes vir die gebruiklike borde waarvoor die Grieke so lief is om op die vloer te gooi.
En al Griekse kos wat ek ken was Haloumi en Pita-brood. Hierdie boerseun het baie gehad om te leer.
Ek was gelukkig om naby Mythos parkeerplek te kry. Daar is baie eetplekke in die straat waar hy geleë is, so dis ʼn gewilde plek. Dis nie ʼn koffiewinkel in Petoorsdorp nie.
Ek is vriendelik verwelkom en my rolstoel kon vining tussen die tafels beweeg. My kelner was uiters aangenaam, hulpvaardig en het sy storie geken.
Die atmosfeer van die plek was opgeruimd en besig. Dus was Mythos uiters gewild.
Ek het later daardie aand terwyl Mythos nog aan die gang was by nog ʼn Griekse eetplek in die straat verby geloop, dit was tjoepstil. Die mense was so skaars soos ʼn MTN-verteenwoordiger by Afrikaans is Groot.
Die hele plek se dekor en sy meubels (tafels en stoele) het my laat dink aan fotos wat ek van Griekse restaurante in Satorini gesien het. Die kleurskema was wit en blou. Die meubels was van hout wat ʼn groot kontras uitbring met die plek.
Die drankies-spyskaart was voor my neergesit. Ek kon nie besluit wat om te vat nie. Daar was te veel keuses. Ek het soos Charlie in Willy Wonka se Lekkergoedfabriek gevoel.
Daar was die gewone staatmakers soos Pina Colada’s, G&T, Mojito’s en Margaritas. Party in verskillende geure en vorms. Dan het hulle hul eie geskepde skemerkelkies gemaak soos ʼn Spiced Mule of ʼn Santorine Sunrise.
As jy meer wil weet van hul drinkgoedjies, kyk op die spyskaart:
http://mythos.co.za/menus/oct-2018/69421-Mythos-New-Menu-Sept-2018-Wine-Web.pdf
Ek kies toe die Isle of Mythos vir sy uniekheid en dat hy nêrens anders gemaak sal word nie. Hy was bietjie duur op R75 en is nogal swaar op die millilieters, maar lekker in die keel.
Ek kon o.a vodka, Bacardi rum en tequila oor my tong voel spoel. As al hul drankies so proe verstaan ek hoekom al die toeriste Griekeland toe flok. Dis nie net vir die eksotiese strande of die geskiedenis nie.
Intussen moes ek ook besluit wat ek wil eet. Hiers ʼn voorbeeld van die spyskaart
http://mythos.co.za/menus/oct-2018/69421-Mythos-New%20Menu-Sept-2018-Fish-Web.pdf
Vir voorgereg het ek ʼn Vegatariese Platter gevat. Dit was ʼn fees. ʼn Klomp verskenheid Griekse eetgoed Ek dink die Griekse Gode (Zeus, Poseidon en Ares) moes lekker gechow het in die Antieke Tye.
Daar was o.a varsgebakte Pita-brood, gebraaide Haloumi-kaas, tuisgemaakte falafel (gemaak van pronkertjies), groentekoekies, romerige spinasie en ʼn lekker tzatziki-sous om jou kos in te doop.
Ek stel dit vir alle mense voor wat nog nie met Griekse kos te doen gehad het nie.
Vir hoofgereg het ek gebraaide seekatkoppe (Squid Heads) gekies om te eet. Hulle het in ʼn balsamiese/soja-sous bedien. Dit was verskriklik lekker. Ek beveel dit aan.
Na al hierdie kos was ek vol. Ek het tog plek gemaak vir Loukoumades. Klein Griekse oliebolle (Donuts) wat bedien word met roomys. Ek is spyt ek het nie die Baklava gekies nie. Dit sou meer nommerpas gewees het siende dat ek dit ʼn bekende Griekse dis is.
Ek sal regtig vir Mythos vir al my vriende en familie aanbeveel. Dit is ʼn unieke belewenis om hier te eet.
Ek sien nou Griekse kos is nie ʼn ‘myth’ nie. Dit is waar. En dit is sowaar lekker. As jy nie Griekeland kan besoek nie, bring hierdie restaurant Griekeland na jou toe.
Ek gee die plek 8 uit 10
Positiewe opmerkings
- Goeie diens
- Klante tevredenheid
- Veiligheid
- Goeie higiëne
- Positiewe ervaring
- Groot verskeidenheid disse
- Goed voorbereide disse
- Genoeg beweegruimte vir my stoel
Negatief
- Geen rolstoelbadkamer. Ek is een van die gelukkiges wat sal reg kom in ʼn gewone badkamer, maar wat van ander?
- Daar is nie genoeg parkeerplek vir motors met rolstoele buitekant nie. En niemand kyk of die kar wat wel op die rolstoelparkeerplek staan wel voldoende is om daar te parkeer nie.
Kom kyk self en besluit as jy my nie glo nie.
Antio mense , tot ons weer praat…