Hello mense
Hoe klop dinge in julle geweste? Oorleef julle darem die winter? Is dit ek of het ons nog nie intense koue vanjaar gehad nie? Aardverwarming is duidelik nie ʼn mite wat China uitgedink het nie, soos oom Donald sou sê.
Voor ek begin met my relaas, wil ek net aan James Small se vriende en familie baie sterkte toe wens in hierdie hartseer tyd. Hy was vir ons almal ʼn held en het vir ons gewys om getrou aan jouself te bly.
Ek dink aan julle.
Terwyl ek hierdie blog geskryf het, het ek ook die slegte nuus gehoor dat die musikant Johnny Clegg oorlede is. Ai, dis so jammer. Ons moet vir nog ʼn legende totsiens sê.
Ek is mal oor sy liedjies. ‘Great Heart’ en ‘The Crossing’ sal altyd een van my gunstelinge wees. Sterkte aan sy geliefdes. Rus in vrede Johnny. Jy sal altyd in ons Suid-Afrikaners se harte wees.
Kom ons praat oor iets anders.
Ek het pas opgevang met die tv-drama Suits. Julle weet, daardie prokereursdrama waarin Prins Harry se vrou, Meghan Markle ingespeel het. Ek kon nog nooit verstaan waaroor die bohaai gegaan het nie. Dit is beslis die moeite werd om na te kyk.
Ek het ook onlangs die skrywer John Sandford se boeke begin lees. Veral die Virgil Flowers-reeks. Virgil is ʼn speurder in die staat Minnesota waar hy interessante sake moet ondersoek. Die boeke lees maklik en lesers kan aanklank vind by die karakter.
Die krieket was nou vir jou stresvol hoor. Mense gaan vir dekades oor hierdie finaal praat. Nes die 438-wedstryd tussen SA en die Aussies in 2006.
Ek voel verskriklik jammer vir Nieu-Seeland. Die geluk was maar net nie aan hulle kant nie. Hulle het so goed gespeel.
Die wedstryd het gelykop geïndig. Toe speel hulle die Super-over. Weer was die telling dieselfde. Engeland wen toe omdat hulle deur die dag die meeste grenshoue (4e en 6se) gemoker het.
Darem het een Nieu-Seelander die wêreldbeker gewen. Ben Stokes is in Kiwiland gebore, maar het in sy tienerjare Engeland toe verhuis.
Dieselfde geld vir SA. Jason Roy kom van Durban af.
Gepraat van SA. Baie geluk aan ons Protea Netbal-span wat ons land, anders as hul krieket-naamgenote hoog hou by die Netbal Wêreldbeker in Liverpool, Engeland. Hulle het nou die dag vir Jamaika, wat die tweede-plek beklee op die internasionale ranglys geklop.
Die Bokke se eerste toets is Saterdag, 20 Julie op hande teen Australië op Ellis Park. Rassie Erasmus het ʼn groot groep spelers geskies.
Volgens plaaslike berigte gaan hy een span kies vir Saterdag en dan ʼn ander span met voorkeur spelers wat hierdie naweek sal uitsit wat hy vooruit sal stuur na Nieu-Seeland vir volgende naweek teen die All Blacks.
Ek glo as ons kophou, ons sterkpunte benut en met ywer speel sal ons die Wallabies uit die stryd skop.
Hiers my span vir Saterdag
XV-tal | Reserwes |
1. Lizo Gqoboka | 16. Schalk Brits |
2. Bongi Mbonamb | 17. Steven Kitshoff |
3. Thomas du Toit | 18. Trevor Nyakane |
4. Lood de Jager | 19. RG Snyman |
5. Marvin Orie | 20. Kwagga Smith |
6. Marcell Coetzee | 21. Herschel Jantjies |
7. Rynhardt Elstadt | 22. Frans Steyn |
8. Duane Vermeulen (k) | 23. Cheslin Kolbe |
9. Cobus Reinach | |
10. Elton Jantjies | |
11. Makazole Mapimpi | |
12. André Esterhuizen | |
13. Lukhanyo Am | |
14. Sbu Nkosi | |
15. Warrick Gelant |
Die res van die spelers los ek vir die All Blacks.
ʼn Paar van my skoolmaats is oorsee. Party is tydelik daar en verken net die wêreld. Ander het nie planne om terug te keer nie. Ek weet nie of ek dit oor my hart sal kry om te immigreer nie. Eks te lief vir die land. Ek sien myself as iewat van ʼn patriot. Dit bly maar ʼn persoonlike besluit.
Renosters word nog steeds gestroop. Elke keer as ek hoor van renosters wat gestroop is breek dit my hart. Of as die teenstropingseenheid stropers aankeer dan kook my bloed.
Dit hou net nie op nie. Die horings is in groot aanvraag. Oosterse sindikate betaal miljoene. Toe ek in die Kruger-wildtuin was, het ek talle van hulle gesien wat reeds onthoring is. Die weermag was ook in die omtrek, besig met patrollie.
Wat gaan gebeur as die renosters se getalle krimp? Wildboere gaan hulle nie meer wil aanhou nie. Hulle is n risiko. Wat dan? Daar is hierdie boer in Noordwes wat 1000 van hulle aanhou, maar dit kos hom R5000 000 om hulle aan die lewe te hou. Die man veg lank vir die wettigmaking van renosterhoring.
Dit is wettig in SA, maar die mark is in die buiteland en die horings mag nie ons land se grense verlaat nie.
Daar word nou wyd en suid geld ingesamel om die renoster te probeer red. Die geld gaan aan anti-stropingsveldtogte. Wat gaan ons maak as die geldkraantjie toegedraai word.
Volgende week is daar iets anders wat gered moet word en al die geld gaan soontoe. Kyk toe die Notre Dame-kattedraal afgebrand het. Sewe punt vyf miljoen euro’s is ingesamel om dit weer op te bou. Daardie geld kon vir renoster-bewaring gebruik geword het.
Moet ons nie progresief wees nie? Moet CITES nie die horing handel wettig maak nie?
Dit sal volhoubaar wees. Horings gaan jaarliks geoes word en dan aan handelaars verkoop word. Hoe meer horings op die mark, hoe laer die prys. Dit gaan naderhand nie meer werd wees om horings onwettig te stroop nie.
Julle sal dink ek is mal. Kyk na soortgelyke gevalle. Alkoholverkope is in die 1920’s in Amerika verbied. Onwettigehandel was toe die norm. Kyk vir ‘canabbis’(dagga). As jy gevang was met dit was dit tjoekie toe. Nou word dit reg-oor die wêreld wettig gemaak.
Ek en jy weet die gierigheid van die mens gaan nooit gestop kan word nie. As ons die renosterhoring-bedryf met regulasies, wette en sisteme bestuur kan dit suksesvol wees. So begin nuwe markte vir ons vorm.
Krokodille word vir hul velle geteel. Volstruise vir hul vleis. Wilde diere vir jagbedryf. Eiers word by lêhenne gevat. Koeie word gemelk. Heuning word by die byekorwe uitgehaal. Niemand sê ‘boe’ of ‘baa’ nie. Geen renoster se lewe sal bedreig word nie.
Ons land het baie wildplase met verskillende soorte wild op. Groot bedrae geld word op veilings betaal. As dit nie vir wildboere was nie, was alle wild aan die nasionale parke uitgelewer en die getalle was laer.
Hoekom moet eienaars van wildplase renosters aanhou as stroping net aangaan? Hulle gaan net geld verloor.
Die geld wat uit die horing verkope gegenereer word sal die plaaslike ekonomie ʼn hupstoot gee. Werk sal geskep word. ʼn Boerdery sal meer geld hê om die plaas te ontwikkel.
Uit daardie geld wat gemaak word kan jy vir ʼn renoster se voer, weiding, sekuriteit (mens vat nie kanse nie) en medisyne. As daar ekonomiese moontlikhede is sal boere spring om betrokke te raak.
Dan kan ander spesies soos die ietermago of die wildehond gered probeer word. Want die renoster kan vir homself sorg.
Ek hoor die weermag is in die Kaapse Vlaktes geontplooi om wed en orde te help handhaaf a.g.v bendegeweld. Dit is volgens my ʼn baie goeie ding. Iets moes gedoen word. Misdaad en geweld het net eenvoudig hand uitgeruk.
Wat ek wil weet is hoekom word die weermag nie in die platteland geontplooi om plaasaanvalle te probeer hokslaan nie? Die polisie, veral op die platteland kan beswaarlik oral teenwoordig wees.
Ons land het ʼn hoë werkloosheidsyfer, veral onder die jeug. Hoekom word daardie mense nie in die weermag indiens geneem nie?
As werkers en die boere nie veilig voel op die plase nie gaan niemand meer in die landbou bedryf wil werk nie. Of hulle sal na die buiteland toe verkas. Ek hoor baie Suid-Afrikaanse boere oorweeg Botswana en Kanada.
Landbou is ʼn groot ekonomiese bedryf in ons land. Sonder die boere en hul kundigheid sal ons soos ʼn pak kaarte in mekaar val.
Moenie sê dit sal te veel geld kos om meer soldate te hê nie. Kyk met hoeveel rand word die SAL, SABC en Eskom mee uitgehelp.
Ons moet na ons plase kyk. As daar nie produktiewe plase is nie, waar gaan ons ons kos vandaan kry? Soos hulle sê:
NO FARMER. NO FOOD. NO FUTURE.
Dan groet ek maar.
Tot wedersiens
Omtrent ‘n groot mond vol. 😁 Oor die renisterhoring kan ek jou nie antwoord nie, dalk steek daar groot waarheid in. Tans word hulle gestroop terwyl hulle beskerm word. Mens weet nie wat die antwoord is nie.
Dankie dat jy vir ons boere omgee.
LikeLike
Baie dankie. Ek hou van jou blog
LikeLiked by 1 person
Dankie
LikeLike