Haai mense
Wat sê julle van die Bokke? Ons is weer die Kampioene. Na 10 maer jare. Ek glo ons rugby sal weer van krag tot krag gaan. Dankie oom Rassie. Jy moet net in beheer bly.
Al hierdie nuwe strukture by die krieket maak my bekommerd. Ek hoor ons gaan nie eens ʼn afrigter hê nie. Ek is in daarvoor dat daar twaalf professionele franchise krietet-spanne gaan wees. Meer ouens gaan na vore kom en talent gaan ontgin word.
Ek luister nou na Whackhead-Simpson se video’s op Youtube. Dit is hi-le-riaas! Ek lag my maag stukkend. Hierdie man word nie genoeg waardeur.
Gebruik julle Spotify? Ek kan my lewe nie nou sonder dit indink nie. Ek is mal oor Country-musiek en ek word blootgestel aan baie kunstenaars se musiek.
Nou die dag was dit my verjaarsdag. Ek is nou ʼn kwarteeu oud. Eks nou nabyer aan 50 as wat ek aan my geboorte dag is. Liewe land, dit klink erg. Ek het nooit gedink ek sal dit ooit sê nie.
Dit was nogal ʼn week van skokke. Beide Dale Steyn en Hashim het hul stewels opgehang en is vir toetskrieket verlore. Hulle was absolute legends.
Al is ons nog in die winter seisoen was dit ʼn betreklike warm dag. Ek moes al die ‘heaters’ afsit.My krag-rekening gaan sug van verligting. Siende dat dit ʼn lekker dag is besluit ek om pad te vat. Berge toe.
Ek besluit om na die Cathedral Peak Hotel toe te gaan. Dit is omtrent 40km van my af. Ek was nog nooit daar nie. Ek was nog net by die Didima-natuurreservaat (met al die San-rotskuns) daar naby.
Die pad soontoe is besig hoor. Karre en beeste kry jy gereelder as All Black-ondersteuners in SA. Daar is ook draaie skerper as ʼn twintig grade hoek. Ry maar versigtig. Moenie voet in die hoek sit nie, Poeksie.
Toe ek daar aankom was ek nogal aangenaam verras gewees. Dit was meer ʼn vakansie-oord as ʼn hotel. Wooneenhede was oor die hele eiendom uitgelê. Daar is ʼn golfbaan,ʼn rolbalbaan, ʼn spa, swembaddens (warm en koud), tennisbane, pluimbalbane en ʼn reuse skaakbord.
As jy iets in die buitelug verkies is daar
- Drafroetes vir die fiksheidfreaks
- Motorfietsry-roetes vir die greasemonkeys
- Fietsry-roetes vir mense wat nie wil draf
Daar is heelwat roetes om te stap as jy die berge wil gaan verken. Hulle is van verskillende afstande en rigtings. Dalk loop jy vir Heidi en Peter raak. Moet net nie verdwaal nie.
As jy die geld het, gaan op ʼn helikopterrit. Hulle reken dis ‘asemrowend’.
Die uitsig op die berge is uiters betowerend. As jy op die hotel se stoep sit kyk jy in die berge in vas. Dink net hoe mooi moet dit wees as daar sneeu is. Dit was heerlik om vars berglug in te asem.
Die hotel is in die middel van ʼn wêrelderfenis gebied. Hier kom baie plant-en dierspesies voor. Ek het ʼn klomp bosbokke gesien rondloop. Ek kon hulle volg met my nuwe rolstoel. Ek het soos ʼn spoorsnyer gevoel.
Hier kan konferensies en troues gehou word.
As in die ingangsportaal is ʼn groot model van die topografie van die area. Wat hierdie model so uniek maak is dat hy saam met ʼn spul knoppies kom wat benoem is met name van bergpieke en natuurlike verskynsels. As jy ʼn knoppie druk gaan ʼn liggie aan waar die naam geleë is.
Daar is ʼn restaurant en ʼn kroeg. Daar was heelwat opsies. Ek het ʼn lekker buffet-ete gehad. Middagete word tussen 12h00 en 14h00 bedien.
Die hele plek is skoon, netjies en rolstoel-vriendelik. Ek kon die hele plek op my eie verken.
As jy belangstel, kyk na die website. Daar is ʼn interessante geskiedenis van die plek beskikbaar.
Ek gee hier die plek ʼn vet,ronde agt. Ek sal weer terug kom.
Baai mense