Hello mense
Hoe gaan dit met almal? Is julle nog wel? Geen klagtes?
Hoe minder ons oor die politiek en misdaad praat hoe beter. Ek is nie ‘oblivious’ van wat aangaan nie, maar ek fokus eerder op positiewe dinge.
Antwoord my egter net een vraag: Hoekom word daar op so baie mense op een plek in Amerika geskiet? Is daar ʼn kult of ʼn ding aan die gang? Geen mens weet nie.
As ek deesdae wil skaterlag, luister ek net na een van Darren ‘Whackhead’ Simpson se podcasts en hoe hy mense uitvang met poets-oproepe. Dit is baie, baie, baie snaaks! Ek kan nie my lag in hou nie. Ek klink soos ʼn hiëna as hy in die nag roep
Die Bokke maak ons deesdae trots of hoe? Hierdie jaar het hulle sowel die Rugbykampioenskap gewen en is onoorwonne. Oom Rassie moes lankal beheer oorgevat het.
Ons almal kyk nou wie gaan op die vliegtuig klim Japan toe vir die Wêreldbeker en wie ry Jan-tuisbly se karretjie. Ek sal in ʼn ander post vir julle my groep van 31 gee wat moet gaan.
Die wedloop vir die Curriebeker-titel is nog volstoom aan die gang. Ses spanne het nog ʼn kans. Na die naweek sal ons sien wat gaan met die semi-finale gebeur. Ek hoop my span, die Haaie trek deur.
Ek sien dinge het nou so bietjie verander by die Proteas afrigting-strukture. Kom ons hoop dinge loop vlot.
Ek het ʼn nuwe juweel hier in die Drakensberge ontdek. Baie mense het my hiervan vertel en ek besluit toe om te kom ondersoek instel.
Hier op die R600 wat jy kry vanaf Winterton, by die ou vliegveld is ʼn restaurant genaamd Champagne Bistro Cafè:
ʼn Eetplek wat ʼn op stoep/patio geleë is en wat uitkyk oor die grasgroen grasperk. Dit laat jou dink aan die ou dae toe julle vir ouma-hulle Sondae gaan kuier het en dan geniet julle middagete op die stoep.
Die dekor van die plek was uniek, kreatief en iets nuut.
Hier word elke Sondag ʼn heerlike buffet-middagete voorgesit. Vanaf hoenderpastei en bobotie tot gedroogte wortels en beetstukke met jellie. Dit is heerlik.
Die nageregte was ook aptytwekend. Skuimpies, sjokaladekoek en melktert was van die opsies. Die bestandele was kraakvars en die uitleg was uiters kreatief.
Die eienares Elsa Buys was ʼn deelnemer aan die kookreeks Kokkedoor op Kyknet en die bistro is al meer is ʼn jaar hierso.
Betaling by die bistro was uniek. Jy betaal nie per kop of ʼn spesifieke bedrag nie. Elke keer as jy vir jouself gaan kos skep word jou bord geweeg en jy betaal volgens gewig. Amper soos ʼn slaghuis.
Die rekening op die ou einde was glad nie sleg nie.
Gedurende die week word ontbyt en middagete bedien.
Daar was nie-alkoholiese drank dingetjies soos koeldranke en ystee op die spyskaart. Nee, nie ʼn Long Island Ice Tea nie. Soos ek die ding verstaan vat jy jou eie drankies saam.
Ek het langsaan by die bierbrouery ʼn bier gaan koop. Jy mag dit by die bistro drink. Ek het die Blonde gevat. En nee, ek is nie varkerig nie. Dit is die naam van die drankie.
Behalwe die brouery is daar ook ʼn sjokalade-fabriek waar jy jou eie chocolate fondue kan geniet en ʼn plaasstal met allerhande goed soos vars vleis en tuisgemaakte gelato.
Jy moet plek bespreek vir Sondae en daar word net ʼn sekere aantal disse gemaak. Ek gaan weer hier kom eet. Die plek is rolstoelvriendelik, die diens is puik en die atmosfeer ontspannend.
Die Champagne Bistro Cafè kry 8 uit 10 by my.
Ek kan nie wag om myself weer trommeldik te eet nie.
Mooi bly.
Aloha