Ole ole ole ole…
Verskoon my tog mense, ek is nog in ʼn feesvierige-bui. Ek is nog steeds in die wolke oor die Springbokke se spogvertoning teen die Engelse Rose. Dit was ʼn fantastiese wedstryd wat ek sal onthou as ek eendag in die Juana Maria-outehuis sit met die nuutste uitgawe van die Gazette in my hande terwyl ek terug dink aan die goeie ou dae.
Ek was so in my skik met die Bokke ek het dit oorweeg om ʼn Springbok-tattoo te kry. Ek het intussen tot ander insigte gekom en nou sal ek eerder ʼn Speedo soos Faf de Klerk s’n in die hande wil kry.
Ons land het hierdie oorwinning broodnodig gehad. Het julle gesien hoe al die mense in die strate saamdrom toe die Bokke deur die land getoer het met die Web Ellis-trofee? Mense van alle dele van die samelewing het alles gelos (skool, werk) en die weer getrotseer om hierdie gebeurtenis te aanskou.
Wat gaan ek nou kyk? Eers oor 3 maande wanneer daar weer ordentlike rugby is gaan dit my aandag trek. Daar’s darem bietjie sewes-rugby wat voorlê.
Nou die dag toe hoor ek ʼn positiewe brokkie nuus by een van my bronne in verband met Geluksburg.
Lyk my daar het ʼn organisie met die naam Sportsec die “Homeground Initiative”saam met UNICEF en die Departement van Basiese Onderwys begin deur ʼn sentrum te stig wat die jeug van die omliggende gemeenskap ondersteun met opvoeding en persoonlike ontwikkeling.Die sentrum volg ʼn sport gebasseerde-program vir Laer-en Hoёrskoolleerlinge.
Ek is seker hierdie projek gaan baie vrugte afwerp en mag dit van krag tot krag uitbrei. Ek hoop om gou-gou weer hieroor te skryf.
Manne, het julle al julle snorre begin kweek vir “Movember?” Ek sukkel maar nog. In ʼn ideale wêreld sou ek verkies het dat my snor soos Tom Selleck van Magnum PI-faam s’n lyk, maar ongelukkig lyk dit my ek en die wyle Elvis “Hound Dog” Presley gaan aan dieselfde snor-klub behoort.
Dit het die naweek so bietjie gereёn, skaars 10 millimeter. Die weerdienste het groot donderbuie vir hierdie week voorspel. Aan die anderkant, Koningin Elizabeth het seker ook ʼn wêreldbeker-oorwinning voorspel.
Ek hoop regtig die groot reёn kom so gou as moontlik. Oor groot dele van die land sukkel ons boere om kop bo water te hou. My skape wat daar in die Vrystaat wei kry maar swaar met die min weiding. Ek gaan dalk vir hulle bietjie mielies moet stuur.
Laat die reёn val waar dit wil
Totsiens