Ek is seker baie mense het al van Ladysmith gehoor. Dit kan oor geskiedkundige gebeure wees soos die Beleg van Ladysmith. Dit kan wees omdat die wêreldbekende musiekgroep Ladysmith Black Mambazo sy oorsprong in die dorp het.
Sportliefhebbers behoort te weet dis die geboorteplek van die 1995 Wêreldbeker Springbok-heelagter André Joubert. Ek dink egter almal wat by Van Reenens-pas afry oppad see toe weet van die dorpie.
Daar is egter ʼn versteekte juweel waarvan min mense weet: die Nambithi Private Wildreservaat.
Die Groot 5 was net duskant my ou skoolbanke
Die reservaat is 20 km (10km soos die kraai vlieg) van Ladysmith af oppad na Newcastle toe op die N11. Daar is ʼn afdraai pad waar jy ʼn paar kilo’s op ʼn grondpad moet ry.
Die reservaat is oor die 10 000 hektaar. Daar is baie wildspesies (insluitende die Groot 5 en jagluiperds). Daar is 10 lodges (een is vir timeshare-houers) en hulle is almal oor die hele reservaat versprei wat deur die plaaslike gemeenskap besit word.
Ek en my pa het besluit om vir een naweek te gaan kyk hoe lyk dinge daar. Ons het plek bespreek by die Springbok Lodge en toe ek die bespreking behartig het was hulle baie toegemoedkomend met my rolstoel en ander behoeftes.
Terloops, volgens berigte was die vorige eienaars van die Lodge ʼn paar bekende Springbokke.
Dag 1
Ons kon van een-uur af by die suidelike-hek in gaan (die reservaat het twee). Na ons deurgelaat is het ons 500meter verder gery na ʼn parkeerarea toe. Daar kom laai die gidse die gaste jou op met hul wildbesigtigings-voertuie en neem jou na jou plek van akkommadasie.
Ons gids, Brent Scott het ons kom haal, maar siende dat my rolstoel nie soos gewone rolstoele maklik kan opvou nie, volg ons hom met Sally (ons Volkswagen kombi) Springbok Lodge toe. Dit was nie ver nie.
Toe ons daar aankom is ons vriendelik gegroet met ietsie om te drink en ʼn nat waslap om die Afrika-stof af te was.
Die lodge was rolstoel-vriendelik en ek kon alles gaan verken. Daar is ʼn winkeltjie om in rond te snuffel, ʼn kroeg om jou dors te les, ʼn ruim eetkamer, ʼn gerieflike sitkamer met banke en sagte kussings, ʼn stoep met ʼn uitsig op die swembad,ʼn mensgemaakte rotspoel en die boma om in die aande by die vuur te sit en “Manne dis ʼn voorreg” te sing.
Al die gaste het weg van die hoof-lodge in luukse tente wat op hout-stellasies staan gebly. Myne was nie ʼn uitsondering nie. By my tent was daar egter ʼn ramp waarop ek moes ry om by my tent in te kom.
Binne-in die tent was dit luuks. Twee beddens, ʼn groot, diep bad, baie pakplek, koffie- maak toerusting, krag en ʼn lugverkoeler. Buite die tent was daar ʼn buite-lug stort (moenie bekommerd wees nie, dis mooi bedek). Dan die beste van alles, gratis WiFi!
Na ons uitgepak het, het ons ʼn heerlike middagete geёet (tensy anders vermeld is dit ʼn buffet-ete).
Half-vier het ons in die wildbesigtigings-voertuig geklim. Ek het heel voor by die gids gesit. Brent was af die middag so ʼn ou skoolmaat van my Bronwyn (ek was in Ladysmith op skool) wat toevallig ook daar werk het ons uitgevat.
Die rit was interessant. Bronwyn het ons baie vertel oor die plante, voёls en die diere. Ons het njalas, rooibokke, waterbokke en kameelperde gesien.
Ons was opsoek na die olifante. By hierdie plek praat die gidse met mekaar oor die radio. Die radio’s gaan so baie aan ek is seker party ooms gaan dink hulle is terug op die grens.
Die reservaat het verskillende ekosisteme. Grasveld, bosveld, berge ens.
Uiteindelik kry ons die flapoor-bende. Hulle was oppad om te gaan water drink by ʼn dam. Daar was so 10 van hulle. Ons het ʼn tydjie afgeknyp en hulle dopgehou.
Daarna het ons gaan Sundowners drink by ʼn ander dam. Gelukkig was daar geen seekoeie in sig nie. Na ons so bietjie tyd daar vertroef het, het ons gaan jagluiperds soek.
Dit het al begin donker word toe ons hulle kry. As dit nie vir die volmaan was nie het ek hulle nie gesien nie. Daar was twee van hulle. Hulle het ʼn halsband om hul nekke sodat hulle ʼn GPS-ligging kan deur gee.
Die reservaat het op ʼn stadium 15 jagluiperds gehad, maar hulle en die leeus het te veel baklei en anders as die Currie-beker finaal het hulle verloor. Nou’s daar net vyf oor.
Daarna is ons terug Lodge toe vir aandete. Die kos was heerlik en die verskeidenheid groot.
Dag 2
Ons moes douvoordag opstaan vir die oggend-rit (06h00-09h00). Ek was maar taamlik aan die slaap toe ek voor by Brent inklim, maar gelukkig het die koue, vars lug my wakker gekry. Ons het in dieselfde area as die vorige dag gery.
Ons het weer die olifante en die jagluiperds gesien. Die keer het ons meer bok soorte onder oë gehad. Die beste van alles vir my was toe Brent stop by ʼn oopte vir ʼn bietjie koffie en koekies wat hy saam gebring het. Dit het sommer vorentoe gesmaak.
Na die oggendrit het ons ʼn heerlike ontbyt geeët. Kort daarna het klaasvakie geroep en ek het soos Rip van Winkel ʼn uiltjie gaan knip. Toe ek wakker word het ek op die stoep gaan sit met ʼn boek en ʼn drink dingetjie. Ek het heeltyd vir die bos gekyk, maar niks het sy opwagting gemaak nie.
Daar was middagete maar ek was te versadig om iets te nuttig. Ons het weer drie-uur vir ʼn middagrit gegaan. Ons was ʼn bietjie vroeg, maar Brent het gesê ons het ʼn lang pad wat wag.
Springbok Lodge is in die suide van die reservaat. Ons het noord gegaan. Skaars 10km verder kom ons by ʼn oopte met hordes blesbokke, sebras, blouwildebeeste, swartwildebeeste, elande en hartebeeste. Vlakvarke hardloop ook daar rond,stert in die lug.
ʼn Entjie verder kry ons ʼn paar seekoeie wat in ʼn dam swem. Brent vat ons toe na waar die buffels gewoonlik voorkom. Ons kry hul mis in die pad en volg hul spoor. Ons gaan af by ʼn vallei en kry ʼn trop van 40 buffels wat in die gras lê en vreet.
Op ʼn rantjie sien ons ʼn renosterkoei en haar kalfie waar hulle wei. Die koei was ʼn bietjie onrustig. Sy het heeltyd om haar rond gekyk. Ek kon nie verstaan hoekom nie.
Toe gebeur dit! Skaars 50 meter regs van die voertuig kom daar ʼn leeu uit die bosse uit gestap. Toe nog een. Toe nog een. Een mannetjie en twee wyfies.
Ons ry in die rigting van die leeus. Hulle gaan lê weer onder ʼn boom. Na tien minute se wag staan die wyfies op en stap in die rigting van die renosters. Ek dag hier kom ʼn vangs, maar helaas…
Die wyfies is terug die bosse in en ons gaan maak toe weer ʼn sundowner: Die keer op ʼn koppie met ʼn pragtige uitsig oor die reservaat. Amper soos Pride Rock van The Lion King.
Ons kon tydens aandete kies vanaf ʼn spyskaart. Ek het salm roulade, vegetarian aubergine en sjokalade koek gevat. Heerlik!
Die diens hierso is puik. Niks is te veel moeite nie.
Dag 3
Ons is weer vroeg uit vir ʼn oggendrit. Dit was koelerig buite. Na die vorige dag se sights het ek nie veel verwag om te sien nie. Ek was verkeerd. Langs die pad kry ek weer al die bok-spesies van die vorige paar dae. Die jagluiperd wat langs die pad lệ en slaap het was ʼn bonus.
Die groot bederf was die swartrenoster wat ons langs die pad raakgeloop het. Ou Ronnie was nie in ʼn goeie bui nie. Hy was lus om ons te storm. Ek was ʼn bietjie senuweagtig gewees.
Vir ons koffie-breek het ons op die walle van die Sondags-rivier gaan uitspan. Piet Retief en sy trekkers het ook hier gestop. Dit was waar die rivier sy naam vandaan kry. Hier in die reservaat is baie historiese plekke van belang. Dit hou verband met o.a die Anglo-Boere oorlog.
Net toe ek vir oulaas na ontbyt op die dek staan en my oё laat gly oor die bosse kom daar ʼn trop olifante uitgestap. Asof hulle vir my kom groet.
Ek het ʼn besonderse lekker tyd gehad. Ek sien uit na my volgende besoek.
PS: Dankie vir die ‘public Domain’ vir die foto!