Goeiedag julle almal
Hoe gaan dit met julle? Kan julle glo die einde van Januarie is in sig en binne ʼn oogwink is die eerste maand van 2020 verby. Net nou die dag het ons nog oujaarsaand gevier.
Toe ek klein was het ek altyd gedink die ‘ou’ mense praat nonsens as hulle sê “die tyd het gevlieg,” of “die tyd stap aan.” Nou sien ek hul het nog al die tyd geweet waarvan hulle praat.
Die Superrugby begin genadiglik hierdie naweek. Ek hoop die Sharks gaan die Blou Bulle se sterte dubbel-knoop. Ek is juis hierdie week so bietjie in Pretoria. Ek het nie genoeg tyd gehad om alles op papier te sit nie, so my Jakarandastad-avonture gaan moet wag tot eerskomende week.
Elke dag oppad werk toe ry ek verby ʼn ou, verlate treinspoor wat nou in onbruik is. Eens op ʼn tyd het hier baie treine verby gery. Passasierstreine, goederetreine. Jare gelede het dit opgehou om hier verby te ry. Selfs die ou perron staan in vervalle.
ʼn Trein was nog altyd vir my vreemd gewees. Ek het dit nie geken nie. Al trein waaraan ek ooit blootgestel was, was die gewilde mini-treintjie wat jare lank by Scottburgh se hoofstrand geloop het. Ek het hom baie gery as kind.
Treine is ook deel van my familie-geskiedenis. My oupa was ʼn drywer, my ouma aan vaderskant het vir die eerste keer in Kwa-Zulu Natal met die trein aangekom.
Ek weet mense in die stede pendel daagliks met die treine (Gautrein) en ek weet daar is ʼn Transnet-treinstasie in Ladysmith wat die bron van baie mense se inkomste is.
Ek het so ʼn jaar of wat terug vir die eerste keer ‘groot’trein gery. Dit was net so voor Kersfees. Die trein is nogal The Holiday Express gedoop.
Ek het vroeg die oggend by Durban se Spoorwegstasie by die Premier Business Lounge opgeklim. Die kompartement waarin ek gery het was rolstoelvriendelik. Onthou, daardie tyd het mense my nog in my rolstoel rondgestoot.
Die atmosfeer was lekker. Agtergrondmusiek het gespeel. Ons kon verversings koop.
Die treinrit was vir ongeveer ʼn uur lank. Ons het oor die berge, af in die valleie en deur tonnels gery om by ons bestemming uit te kom: Die Shongweni-plaasmark. Ons het selfs by ʼn mooi waterval gestop.
Om trein te ry het my vaak gemaak. Mense wat slaap op ʼn trein moet soos ʼn klip slaap.Die geluid van die trein op die spoor is so gerusstellend. Nou weet ek wat Neil Diamond bedoel as hy sing, “Like the clickety-clack of a train on a track”.
Dis jammer dis nie meer die norm om trein te ry nie. Ons is almal haastiger deesdae. Ons maak eerder gebruik van pad- of lugvervoer.
Julle moet mooi bly en ons praat weer.
Lekker week verder.