Hello my liewe lesers
Hoe gaan dit met julle? Ek het lanklaas vir julle geskryf. Ek hoop julle kan dit in julle harte om my te vergewe.
Interessante tye waarin ons deesdae lewe of hoe? Hierdie COVID-19 (koronavirus) het dinge nou behoorlik vir ons inwoners hier-op aarde kom deurmekaar krap.
Hierdie dodelike siekte wat eerste kop uitgesteek het in Wuhan, China het blitsvinnig om die wêreld heen versprei. Miljoene mense is al aangesteek en oor die tweehonderdduisend het al gesterf en wetenskaplikes sukkel nog om kop-of-stert uittemaak. Hulle moet wikkel en ʼn vaksine produseer.
Lande soos Spanje, VSA en Italiё loop lelik onder hierdie virus deur.. Wat die media egter nie vertel nie is hoeveel sieklikes wel volkome herstel het.
In Suid-Afrika het ons darem vroeg wakker geskrik en noodmaatreels is ingestel om ons te beveilig.
• Ons moet nou almal tuisbly en onsself isoleer van mekaar
• As ons siekvoel en die gepaste simptome wys moet ons getoets word
• As ons van die buiteland af terugkom of in kontak kom met iemand wat daardie
simptome het moet ons in ʼn 14 dae-kwarentyn geplaas word.
• Net diegene wat noodsaaklike werk doen word toegelaat om te gaan werk
• Jy moet toestemming (permitte) kry om iewers heen te gaan
• Alle sport is met een slag gekanselleer
• Ons moet heeltyd hande en gesigsmaskers dra as ons uitgaan
• Ons mag nie met mekaar kuier nie
• Ons het nou aanklokreёls
• Alle onderrig is gestaak
• Net sekere winkels mag oop wees
Om weke opgesluit te sit in jou eie huis is nie enige man se maat nie. My kop is gelukkig nog sterk. In die verlede as ek mos binne bly terwyl ander mag uit het my sielkundig sterk gemaak.
Ek hou myself maar besig. Ek lees boeke van o.a John Grisham, David Baldacci en Robert Galbraith wat ek lanklaas onder oё gehad het. Anders beplan ek aan my toekomstige verhale.
Dankie tog vir aanlyn-stromingsdienste soos AmazonVideo en Netflix en CatchUp van DSTV om my besig tehou. Ek kyk nou baie na Chicago Fire, Madame Secretary, NCIS en Hawaii Five-O.
So elke paar dae gooi ek bietjie my gewigte rond. Kenners reken mos mens moet jou spiere kans gee om te rus.
Vir agtergrondmusiek speel ek baie vanaf die App Spotify ʼn wye verskeidenheid van sangers se musiek: Shania Twain, Don Ho en Roy Orbison. My gunsteling genre is countrymusiek. My gunstelinge is Don Williams en Johnny Cash. My gunsteling liedjie wat ek nou al uit my kop uit ken is “Brown Eyed Girl” van Van Morrison.
Gepraat van musiek. As die gier my beetpak dan gryp ek my ou kitaartjie en wikkel die snare so bietjie vir ʼn melodie. Ek ken nie ʼn noot nie, maar ag, wat maak dit saak. Ek speel net vir myself.
As die weer lekker is ry ek buite rond in die tuin om bietjie grate Vit. D te ontvang. Baie keer dan gaan staan ek in die son en bak soos ʼn lui huiskat. Ek gaan kyk hoe lyk my groentetuin. My pietersielie, soet-uit en die rissies het gegroei in hierdie tydperk.
Om my dae vining om te kry, gaan slaap ek na vier, dat ek laat opstaan (gewoonlik 11h30) dan is ʼn groot deel van die dag mos verby.
Ek mis die tjommies, maar daarvoor is daar Whatsapp en Videocalls.
Ek mis dit om rugby te kyk, soms is ek sommer lus en gryp een van my paprugbyballe en blaas dit en druk sommer self ʼn paar drieё. Hierdie tyd sou daar klomp rugbywedstryde gewees het: Ek wonder hoe sou my klubspan en die Sharks gemaak het.
Ek wonder baie wat in die toekoms vir ons wag. Ek wonder baie keer hoe on shier deur gaan kom.
Soos Bob Dylan sing in een van sy lirieke, “The answer my friend is blowing in the wind,”.
Hier is darem voordele wat uit hierdie pandemie kom. Ons kon hierdie tyd benut om rustig tyd metons vriende en familie deur te bring en eenvoudig te lewe. Ons kon terugkeer na dinge wat saak maak. Ons het almal geleer om nuwe dinge te doen en dankbaar te wees vir ons lewe soos dit was.
Die natuur het ook begin om terug te neem wat aan hom behoort. Die lug is skoner, die diere loop rond waar hul voor die ‘lockdowns’ dit nie sou gewaag het nie. Kyk maar na die pikkewyne wat in Simonstad rondloop en die koedoes wat Pretoria se strate verken.
Dit is wonderlik om te sien hoe Suid-Afrikaners vir mekaar omgee en mekaar help. Ek het nooit besef die weermag het so baie mannekrag nie en ek is bly hul hulp is ingeroep Ek dink meer mense moet help met bystand. Dalk oud-medici?
Ek dink die skooljaar moet gestaak word. Die leerplan is nou heeltemaal ontwrig. Almal moet wegbly sodat ons volgende jaar (2021) kan hergroepeer en van vooraf begin. Al is almal nou een jaar ouer.
Lyk y die mense wat vir “homeschool” is het tog iets beet.
Ek is baie bly President Cyril Ramaphosa kon vir almal wys watter sterk l;eier hy is en hoe hy nie bang is om moeilike besluite te neem nie.
Almal kritiseer hom en stel ander alternatiewe voor , maar as dit flop sit hulle nie met die gebakte pere nie. As ek kyk hoe ander lande se leiers optree is ek dankbaar ons het hom.
Almal mis die dop en is maar neukerig daaroor dat die verkoop daarvan verbied word. Ek verstaan dit, ek mis dit ook om ʼn tequilatjie te vat, maar koskoop is die belangrikste. So, ja dis die einde van my relaas. Ons praat weer.
Lekker dag verder.