Hoe sê die dominee altyd?
Goeiemôre broers en susters
Ek hoop julle het ʼn bakgat naweek gehad! Ten spyte van die Proteas se skok nederlaag teen Sri Lanka. Wat op aarde?
Geluk aan al die Blou Bul-ondersteuners. Julle kan onvoorwaardelik trots voel op julle span. Saterdag se span was weer die Bulle van ouds. Ek wil maar net noem:
Pasop as julle teen die Sharks speel. Ons byt! Ons is nie die Stormers wat die bus verpas het nie.
Vandag gee ek weer ʼn resensie. Anders as my vorige resensie gaan ek nie oor ʼn restaurant skryf nie.
Dit was nou Sondag wat verby is. Ek was nie lus vir braaivleis nie. Die vorige naweek was ek daar in die Vrystaat gewees.
Bietjie vir my mense gaan kuier en gaan kyk hoe loop die skape wat ek besit. Ek is mos ʼn opkomende boer wat homself ekonomies gaan ophef.
Daar het ek nogal heelwat vleis gehad. Genoeg om Sylvester die Leeu versadig te maak.
Ek laai my ouers in die kar, tel vir ouma langs die pad op, gaan koop die Rapport (Wat is ʼn Sondag sonder die rapport) by die kafee en vat toe die pad Winterton toe.
Nee, ons was nie van plan om by die Bridge Hotel vas te haak nie. Ons was oppad berge toe. By Winterton gekom draai ons regs (links as jy vanaf die snelweg kom) by die robot en klim toe op die R600.
Met daardie pad ry ons die berge in. Ons ry verby woonbuurte, winkels en plase. Mens kan jouself verkyk aan die rye mielies op die lande wat maar te dankbaar is vir die reën.
Hoe nader jy aan die berge beweeg, hoe meer beweeg jy in ʼn ander wêreld in.
Ek sê altyd as jy in hierdie area is, kan jy maklik vir alles en almal wegkruip. Niks kan jou hier pla nie.
Uiteindelik kom ons by ons bestemming uit. Omring deur die plaasgrond en met ʼn killer uitsig op die Drakensberge is ʼn plek wat almal hier rond ken en voor lief is.
Die Waffle Hut
Dit is ʼn eetplek/koffiewinkel wat jy net moet besoek as jy ooit in die geweste is. Hier maak hulle die lekkerste pannekoek en wafels waaraan jy net kan smul.
Voor ek aangaan oor die kos wil ek net ʼn bietjie agtergrond gee.
Ek kan nog onthou toe hierdie plek pas oopgemaak het. Ek was nog ʼn laaitie. Die eetplek was baie kleiner as wat hy nou is. Die verskeie disse op die spyskaart was ook aansienlik minder.
Langs die Waffle Hut was daar ʼn kers-en matfabriek (Kwazulu-Weavers) met ʼn klein kuriowinkeltjie wat hul produkte verkoop het. Dit was die ideale plek om ʼn ou geskenkie te koop.
Die plek was volop handgemaakte matte en tuisgemaakte kerse. Alles was maar ʼn verskeidenheid.
Ek onthou nog toe ek in die laerskool was, was ons Gr3.Afrikaanse-klassie maar klein gewees. Ons het almal in die juffrou se Land Rover gepas vir ʼn uitstappie berge toe. Een van ons stop plekke was Kwazulu Weavers.
Ek is trots om te sê hulle is nog steeds hier en gaan nog al die pad aan.
Kyk bietjie by hulle webtuiste
Die Waffle Hut het soos die jare aangestap het aangehou groei. Dit is ʼn plek om rustig te wees en jouself te geniet. Dit gee jou ʼn kans om bietjie bene te rek en in die vars berglug weer te kan asemskep.
Dit is die perfekte plek vir ʼn familie-uitstappie of vir ʼn vinnige kuiertjie met vriende.
- Hier is ʼn kwekery waar jy interessante plante en kruie vir jou tuin tuis kan kry
- Hier is ʼn speelpark met klimrame en sulke goed om die kleingoed besig te hou
- Hier is ʼn antieke-ware winkel waar jy bietjie jou kooplus kan blus. Selfs boeke is hier te vind
- Hier is ʼn mini-golfbaan. Huur ʼn stok en slaan ʼn paar gaatjies
- Hier is nog ʼn eetplek. Die Pizza Hut is sy naam. Die pizza wat hier gemaak word is flippen lekker. Die beste in die sentrale- en suiderlike-berg. Jy kan pizzas koop om weg te neem of jy kan by een vat die skrophoutbanke gaan sit en wag vir jou pizza. Daar is verskillende variasies. Die kos is vullend en smaaklik.
Terug by die kos. By die Waffle Hut was daar nie net pannekoek en wafels nie maar ou staatmakers soos
- Ontbyt wat tot 11:00AM bedien word
- Kerrie
- Wraps
- Gebraaide broodjies
- Hamburgers
- Die gewone drink dingetjies wat jy by ʼn koffie winkel kry (Ek kan ʼn Cuppacino met room voorskryf)
Die pannekoek en wafels op die spyskaart het unieke vulsels gehad. Hier is ʼn paar voorbeelde
- Bobotie-wafel
- Amarula Fudge-wafel
- Biltong-pannekoek
- Spek en Avokadopeer-pannekoek
- Peppermint Crisp Pannekoek
Ek kan die Stewed Fruit(gestoofde vrugte met kaneel)-pannekoek en die Nutty Banana (piesang, heuning en fyngemaalde grondbone)-wafel met roomys voorstel (By al jou soet opsies is daar room of sy maat wie se naam met ys eindig).
As jy lus is vir iets souterig vat die spinasie-en-feta pannekoek of vir die karnivore (99% van ons land se bevolking) die maalvleis- en kaaspannekoek gereg. Too die for!
Ek gee die plek 8 uit 10. Lesers wat my werk ken weet ek gee nie volpunte nie.
Die hele plek is mooi uiteengesit en daar is aanwysings indien jy verdwaal. Ek het geen klagtes oor die personeel of die diens nie. Alles was puik en jou en jou motor se veiligheid is verseker.
Alles is rolstoelvriendelik, behalwe as jy by die Waffle Hut-eetplek wil ingaan. Daar is twee trappies wat jy moet oorkom. Letterlik. Ek het selfs gesien hoe sukkel ʼn bejaarde om op te kom.
Gelukkig is daar ʼn ramp by ʼn sydeur. Ons het dit nie geweet nie. Nêrens was daar ʼn bordjie (wat ek gesien het) wat hierdie feit aandui nie. Dalk moet hulle (bestuur) hierna kyk.
Die badkamers was skoon en netjies. Dit het ook genoeg spasie gehad vir ʼn rolstoel om in te beweeg.
Ek is duidelik nie al een wat tevrede is met hierdie plek is nie. Gaan kyk net op Trivadvisor na al die positiewe kommentaar.
Mens is altyd versadig en tevrede as mens hier weg ry. Die lewe druk mens soms. Al doepa wat ek dink werk as jy die pad berge toe vat en ʼn wafel kom verslind.
Totsiens broers en susters
Mag dit geweldig goed gaan met julle.